INSULINDE.

Mirakelland van oerwoud en vulkaan,

Ek groet jou in jou glorie! Elke teug

Van die koel suidewind hernu my jeug,

En maak my amper kind weer, en verslaan

’n Dampwolk van gedagtes en die waan,

Dat net maar in die Wes die lewensvreug

’n Weerklank vinde, en dat trou en deug

Alleen kan bloei in lande, waar die maan

Oor louter ys en wit kapok sy glans

Op wintermôres werp. Ag, ek gewaar

My liefde groei tot byna bo verstand!

Ken ek nie meer my eie koppie en krans,

My boland-vlak van Beaufort tot die Aar?

Leen dan vir my ’n nuwe Vaderland!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 50 / 122 题