DIE OSSEWA.

Die osse stap aan deur die stowwe,

geduldig, gedienstig, gedwee;

die jukke, al drukkend hul skowwe--

hul dra dit getroos en tevree.

En stille, al stuiwend en stampend,

kom stadig die wa agterna--

die dowwe rooi stowwe, al dampend,

tersy op die windjie gedra.

Die middagson brand op die koppe,

gebuk in hul beurende krag;

hul swaai heen en weer in die stroppe--

en ver is die tog van die dag.

Dit kraak deur die brekende brokke:

die opdraans is ver en is swaar;

dit knars in die knakkende knokke,

maar hul beur, en die vrag bring hul daar.

So, stom tot die stond van hul sterwe,

blyf ieder ’n held van die daad--

Hul bene, na swoege en swerwe,

lê ver op die velde verlaat.....

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 10 / 122 题