DIE VLAKTE.

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,

ongesien, ongehoord,

en dof en loom in my sonnedroom,

ongewek, ongestoord.

Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande

skuif my breedte uit,

wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur

wat my swyend omsluit.

Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot

bo die diep van die meer;

en volswanger van lewe ’t oor waat’re geswewe

die gees van die Heer.

Uit die woelende nag van haar jeugdige krag

brag die aarde voort

Lewiátans-geslagte, geweldig van kragte--

storm-ontruk aan haar skoot.

Diep in my gesteente berg ek hul gebeente--

die geheim van hul lewe en lot;

maar gewek uit die sode herleef uit die dode,

na die ewig hernuwingsgebod,

die stof van d’ verlede in vorme van d’ hede,

in eindeloos kome en gaan;

wat die dood my vertrou ’t, ek bewaar dit as goud,

en geen grein sal ’k verlore laat gaan.

As die son oor my vloer in die môre kom loer

en die dou van my lippe kus,

dan kyk ek net stom met ’n glimlag om

en lê maar weer stil in my rus.

Hoog bowe die kim op sy troon geklim,

is hy heer van lewe en dood;

na wil en luim geef hy, skraal of ruim,

verderf of lewensbrood.

Uit gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer

tot my naaktheid kraak en skroei,

en my koorsige asem in béwende wasem

al hygend my bors ontvloei.

In sy skadetjie rond-om sy stam op die grond

staat ’n eensame doringboom,

soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,

wat roerloos die eeue verdroom.

Geen drop vir die dors aan my stofdroë bors:

my kinders[1] versmag en beswyk,

en die stowwe staan soos hul trek en gaan

om my skrale dis te ontwyk.

Soos ’n vlokkie skuim uit die sfere se ruim

kom ’n wolkie aangesweef,

maar hy groei in die blou tot ’n stapelbou

van marmer wat krul en leef--

kolossaal monument op sy swart fondament,

waar die bliksem in brul en beef.

En o, met my is die windjies bly:

hul spring uit die stof orent,

en wals en draai in dwarrelswaai

oor my vloer, van end tot end;

die gras skud hul wakker om same te jakker

tot hy opspring uit sy kooi,

en soos mane en sterde van jaende perde

sy stengels golf en gooi.

Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,

kom die eerste druppels neer,

tot dit ruis alom so deur die gebrom

en gekraak van die donderweer.

Met kloue vooruit om te gryp en buit

jaag ’n haelwolk langs verby,

soos ’n perde-kommande wat dreun oor die lande

vertrap en gésel hy--

en sy lyke-kleed sien ek ver en breed

in die awendson gesprei.

Stil in die duister lê ’k so en luister

hoe die spruite gesels en lag;

maar bowe die pak van my wolkedak

het die maan al lank gewag:

nou breek en skeur hy ’n baan daardeur

om te deel in my vreug benede;

hy sprei die waas van sy romig-blou gaas--

en ek lag so stil-tevrede.

Plek op plek, soos die wolke trek,

sweef die skaduwees onder mee,

soos eilande wyd oor die waat’re verspreid

op die boesem van die grote see.

Met ’n afskeidskus gaat die maan ook ter rus

en ek wag op die daeraad--

so skoon en so mooi soos ’n fris jong nooi

wat lag in haar bruidsgewaad.

Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug

van brande wat ver-weg kwyn,

en doringbome fluister in die rooi skemerduister

van gevare wat kom of verdwyn.

Uit slote en plas, uit die geurende gras,

styg ’n danklied op ten hemel;

en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor

weergalm uit die sterre-gewemel,

waar wêrelde gaan op hul stille baan

tot die ende van ruimte en tyd.

So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,

wyd--in sy majesteit.

[1] Die wilde bokke, wat in klompe wegtrek by groot droogte.

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 9 / 122 题