NOG MEER UIT DIE GESKIEDENIS.

OPMERKINGS:--Om van die Boesman te vertel so veel as belangrik

is, deel ons mee wat ander in die Geskiedenis opgeteken het;

en ons is aan dr. Theal baie van hierdie informasie verskuldig.

Die Denkvermoë van 'n Boesman, in die algemeen, gaan nie baie verder as

dié van 'n blank kind van ses of sewe jaar oud nie. Maar om fyn jag-

en diefstal-planne te maak, kan die slimste witman by 'n Boesman gaan

les neem. Hy het nie 'n naam in sy taal vir 'n getal hoër as twee nie:

as hy drie beduie, sê hy daar is een en twee; vir vier sê hy daar is

twee en twee; en so sukkel hy aan. Om die getal van wild aan te gee,

sê hy twee en een wei met hulle kop soontoe, twee staan met hul kop

sonop-toe, twee lê en een staan onder 'n boom.

Maar met dit alles is hy tog 'n tekenaar wat kunstige prentjies op

die rotse kan afskilder, of met 'n harde klip daarop inkrap. Nou,

ou Ruiter, 'n geslepe ou Boesman, het ons verseker dat die meeste van

die prentjies en inkrappings briewe is--ander is somar tekeninge. Nou,

as daardie prentjies briewe is, dan is hul van 'n soort soos kinders

aan mekaar in die begin van hulle skooljare skrywe.

Nou, die ou Egiptenare het ook 'n manier gehad om in tekenskrif te

skrywe. Maar die ou Egiptenaar was 'n hoog ontwikkelde man, en dus kan

ons van sy verhale meer as dié van Boesmans verwag en notiesie neem.

Al vertel die Boesman se tekeninge nie hulle ou geskiedenis nie, dan

het dié vir ons tog groot waarde om aan te toon waar die ou dwergnasie

orals rondgeswerf en gewoon het; ook kan ons daaruit leer of hulle

ooit in beskawing gevorder het.

Dan kom nog hierby dat die Boesmans steengereedskappe vervaardig

het--van 'n seker soort wat maklik uit dié van ander ou volke te ken

is--, en dit bring ons ook op die spoor om die ou verblyfplekke van

die Boesman uit te ken en te ondersoek.

Nou laat ons luister na wat die ou geskiedenis ons verder oor ou

nasies vertel.

Ons het reeds geluister na hoe die Farao's van Egipte 'n dwergnasie

geken het wat so lekker kon dans, en dat die Boesmans in daardie

tyd uit die middel van Afrika moes gehaal word, terwyl baie honderde

jare voor die Farao's die dwergnasie oor die noorde van Afrika en in

Egipte te vinde was. Want hulle steengereedskappe en skilderye is op

verskeie plekke te vinde en te sien.

Nou vra ons: Wat is hier in Suid-Afrika te sien om aan te toon dat vir

honderde jare voor die blankes hier gekom het, hier 'n menssoort gewoon

het wat die gewoontes en lewensaard gehad het wat die teenswoordiges

besit? In die eerste plaas, oor Suid-Afrika is vandag te vinde

Boesmangereedskap. En wat die wonderlikste daarvan is, is dat hierdie

gereedskap net soos dié lyk wat tot in Suid-Europa te vinde is. Die

gelykenis is so sterk dat as ons van hierdie gereedskappe neem en

dié deurmekaarmaak met die steengereedskappe van Suid-Europa, dit

net 'n bekwame deskundige vereis om te sê watter is watter. Ook die

tekeninge is so te sê een en dieselfde wat hier en oor Noordelike en

Middel-Afrika aangetref word. Watter ander gevolg moet ons hieroor vel

as dat die Boesman die oorspronklike bewoner en baas van heel Afrika

was? Want van ander ou nasies is hier geen spoor of klou te vinde nie.

Nie alleen word die gereedskappe hier aangetref nie, maar selfs die

ou werkplekke waar die toestelle gemaak is. Dit blyk dat die vuursteen

waaruit die dinge vervaardig is, van baie ver aangedra is.

In die jaar 1884 ontmoet ons 'n baie ou Boesman wat naby Chrissiesmeer,

Transvaal, gewoon het. Hy het by hom 'n ouderwetse stuk klipgereedskap

gehad. Na ons dit bekyk het en sien dat dit die sogenaamde spieslem

(of asgaailem) is, vra ons hom wat die Boesmans met so 'n tamaai

asgaaipunt maak, terwyl dit tog te stomp en te ongeskik is om iets

daarmee dood te gooi.

Sy antwoord was: "Baas, dis die Boesman se graaf en pik om vanggate

vir wild te grawe." En na 'n rukkie vervolg hy: "Ons, Boesmans, het

nie soveel krag in ons arms om 'n ding met 'n stomp klipasgaai dood

te gooi nie. Maar laat hy hom voor ons pyl en boog kom presenteer,

dan sit hy gou op sy hurke."

Van daardie tyd af het die naam van spieslem (of asgaailem) deur

die geleerdes vir dié soort steengereedskap gebruik, vir ons altyd

vreemd geklink. Want dit blyk dat al die Boesmans nie gif gebruik het

nie--soos b.v. die skepsels wat op die Hoëveld van Transvaal en ander

plekke gewoon het, waar die regte soort gif nie te vinde is nie. Daarom

het die Hoëveld-Boesmans die wild met strikke, wippe en vanggate in

hande moes kry--en vir die gate het hul graafgereedskappe nodig gehad.

Langs ons seekus word baie ou skulphope aangetref, waarvan sommige

seker honderde jare oud is--dis te sê as ons oordeel na die dik lae

stof wat daarop gewaai het, die plantegroei wat daarop van tyd tot

tyd gegroei en vergaan het--vernaamlik te oordeel na die dik bome

wat bo-oor gegroei het.

So is--jare gelede--op Mosselbaai in 'n spelonk 'n groot hoop

skulpdoppe ontdek geword. Deur noukeurige ondersoek en studie het

dit geblyk dat dit deur menshande jare terug daar byeengebring is.

Maar die interesantste skulphoop wat totnogtoe in ons land ontdek is,

is te vinde op die linkerwal van 'n spruit wat in die Buffelsrivier,

Oos-Londen, loop. Die hoop het soos 'n klein heuweltjie gelyk, wat

bedek was met 'n dik laag grond daaroor, waarin bosse en bome gegroei

het; dit was 50 tree lank en 40 voet dik en het omtrent 33,000 kubieke

jaarts skulpe van verskeie soorte bevat. Daar die puin weggevoer was

om 'n moeras mee op te vul, is die grond deeglik ondersoek geword,

en toe kry hul daarin as, stukke van kleipotte, bene en klippe wat

swart brandplekke aantoon; maar steengereedskappe is daarin nie ontdek

geword nie.

Nou, as ons 'n bietjie oor hierdie puinhoop nadink, dan kom daar

baie vrae in ons gedagte op--soos, hoeveel jare het dit geneem om

soveel skulpe te vergader, hoeveel tyd het dit daarna geneem om die

dik laag grond daaroor te waai en hoelank het dit die bome geneem om

daarop te ontwikkel?

In Boesmanland het ons groot sand- en grondheuweltjies aangetref

waarin doppe van volstruiseiers, bene en verteerde horings van wild

en potstukke te vinde is.

Boesman-Stories, Deel 3. Die boesman self, sy sedes, gewoontes en bekwaamhede · 第 33 / 55 题