OPMERKINGS:--In hierdie Verhaal sal ons die Boesman in sy
verskillende kunsbedrywe volg.
Onder die ander inboorlinge van Suid-Afrika hoef die Boesman as
kunstenaar glad nie 'n duim agteruit te staan nie. Vereers is hy 'n
skilder en tekenaar na sy eie kultuur, wat die ander nie is nie. Hierin
het hy 'n beter begrip as baie ou nasies van deursigkunde--dit wil sê,
om voorwerpe op 'n tekening op verskillende afstande voor te stel. Sy
aftekeninge bestaan uit skilderstukke en inkrapsels op rotse en word
deur die kunswêreld baie bewonder. Gewoonlik skilder hy die Boesmans
met rooi of bruin klei af, blank mense met wit klei en Kaffers
met swart verf van roet gemaak. Sy inkrap-, of graveerwerk, word
op harde rotse met vuursteen uitgevoer. Hy gee hierin die voorkeur
aan die groot vaste rotse wat inwendig grys is en wat buite-op met
'n swart, blink nerf verglans is. Deur die nerf deur te krap met
'n skerp vuursteen word die grys gedeelte van die rots sigbaar en
bly so vir honderde jare in goeie staat van bewaring.
Iets wat ons tref in die afbeeldinge van Boesmans, is dat hul die
fatsoen van die liggaam van 'n dier taamlik getrou kan afteken, sodat
daaromtrent geen twyfel kan bestaan nie; maar die bene en horings
is altyd na verhouding te dun; ook skyn hy hom nie te baie oor die
oë en die mond te bekommer nie. Hy verstaan die kuns taamlik goed om
'n mens of dier in staat van rus of beweging voor te stel; dit vereis
natuurlik 'n seker mate van noukeurige oplettendheid om waar te neem
hoedanig so een sy ledemate hou of buig. Sommige van sy afbeeldings
duie duidelik aan dat die tekenaar of skilder 'n regte besef besit
van lig en skaduwee om die deel verhewe of ingeduik voor te stel;
hierdie kennis kom duideliker in sy inkrapwerk uit. Op die plaas
Middel-Hoek-van-Spruit, aan Visrivier, distrik Calvinia, het ons
mooi graveerwerk op die blink rotse aangetref; die heer Schalk van
der Merwe, eienaar van die plaas, was so vriendelik om in 1882 ons
aandag op daardie inkrapwerk te vestig.
Die Boesmans is baie gek na dans; en vir dans moet daar musiek gemaak
word, anders verloor so 'n verrigting baie van sy aantreklikheid. Ook
as 'n danser of danseres neem die Boesman die voorrang onder die
Afrikaanse inboorlingrasse in. Op die Europese toneel is daar min
toneeldansers wat 'n Boesman in 'n riel sal uitstof--hy is met sy
voete net so rats as met sy hande, en met die kronkelinge van sy
liggaam is hy amper so knap as 'n slang.
Vir die dans is musiek nodig; ook hierin vat die Boesman die voortou
by die ander inboorlinge. Sy musiek is glad nie van die beste nie
en is maar bra eentonig, dog altyd van 'n vrolike aard en bestaan
meestal uit riele, waarvan nogal 'n taamlike verskeidenheid bestaan.
Dan tref ons digters onder hulle aan wat die natuurklanke getrou
kan naboots. Daar 'n Boesman dit haas onmoontlik vind om iets uit sy
kop te leer, is dit maklik om te begryp dat hy nie in staat is om 'n
lang rym of digstuk uit te dink en agtermekaar te rangskik nie. Sy
beryminge strek hul nie veel verder uit as die klanke wat hulle
naboots nie. Hulle rek dit egter uit om reëls oor en oor te herhaal. Op
hierdie manier kan hul samevallende gedagtes taamlik uitrek. Dit op
sigself is ook 'n middel om die gedig of rym te onthou. Dis jammer
dat sulke voortbrengsels al hulle krag by vertaling verloor, anders
kan ons enige daarvan weergee; maar die stukkies sal soos kaf lees.
As klugspeler is die Boesman nogal heel vermaaklik. Ofskoon hy glad
nie so gevat is as die Hottentot nie, tog kan die Hottentot nie die
hansworsstreke so knap uitvoer as die Boesman nie. Die naboots en
namaak van diere of persone voer hy onverbeterlik uit--so moet ons hom
hier ook as die vernaamste gebarespeler onder die inboorlinge beskou.
Om die spore van mens of dier oor die hardste en steenagtigste grond
of veld te vind, is hy bepaald 'n kunstenaar of 'n deskundige: die
geringste verskuiwinkie ontglip sy oplettendheid nie. Hy sal selfs kan
vertel hoe lank gelede dit is dat die wandelaar of dier daar gewees
het. Dis wonderlik om te bedink hoe dom Boesmans in een opsig is en
hoe skrander in ander gevalle.