NOG MEER OOR BYGELOOF.

OPMERKINGS:--In hierdie Verhaal sal ons nog meer vertel oor die

bygelofies van Boesmans.

Die Boesman het groot ontsag vir onweer, wind en storms, selfs vir

enige ding wat daarmee in verband staan. Hy gevoel hom dan, nes enige

skepsel in sulke tye, bepaald hulpeloos. Iemand wat die weer, wind of

storms uitskel of met minagting behandel, bedryf 'n groot kwaad. Hy

glo dat die donderweer 'n mens met klippe kan doodgooi. As die blitse

straf is, dan moet iemand na die weerlig kyk, en sy oë blink nes die

weerlig self, en dan sal die ligstraal eerbied kry vir die oë van

die persoon wat na die lig kyk en hom dan nie doodslaan nie.

Die wind word deur 'n voël, Windvoël, met sy vlerke en geblaas

gemaak. As iemand na die Windvoël met klippe, kieries of sand gooi,

of met pyle na hom skiet, dan maak hy daardie voël kwaad, en die

maker van die wind laat 'n windstorm opkom om alles te verwoes en

uitmekaar te pluk.

Paddastoele en ander swamgewasse is kinders van die reën. As iemand

hul uittrek, moet hy hul nie rondsmyt nie, maar saggies neersit,

anders word die reën kwaad en roep 'n geweldige storm op, wat alles

laat verspoel en verwoes. Sulke dinge moet gerespekteer word om die

veiligheid te bewaar.

As iemand onverskillig musiek maak as dit donderweer is, word hy

bestraf; hou hy dan nog aan met speel, dan gooi die weer hom met die

weerlig of 'n swaarweersteen dood.

As Boesmans ontslae wil raak van die slegte gevolge van drome, dan soek

hul 'n klip so groot as hulle vuis, hul hou dit in hulle hand, praat

daarmee en vertel die slegte drome wat hul in die nag gehad het, aan

die klip. Hulle blaas dan hulle asem op die klip en steek dit gou onder

die warm as en kole in, sodat die drome moet verbrand. Doen hul dit

nie, dan gaan die slegte drome mee na die veld en gaan alles aan die

wild, Boesman-rys en veldkos vertel, sodat die dromer dit maar sleg in

die veld moet aantref, en die persoon kom teleurgesteld huis-toe. Maar

is die drome verbrand, dan is die jag maar net soos ander dae.

Boesmans hou nie daarvan om met kos te speel nie--daarom maak hy die

kleintjies van wild dood, sodat die kinders daarmee nie kan speel

nie. Hy glo as sy kinders met die kleintjies van diere speel--nes die

kinders van katte doen--, dan verander hul ook in wilde-katte--dus,

sodra hy sy kind met 'n voëltjie of klein diertjie sien speel, gelas

hy sy kind om die dingetjie op die daad dood te maak.

Vir spoke is hy baie bang. Naby 'n begraafplaas kry 'n mens hom

nie in die donker nie. As hy meen dat hy 'n spook sien, trek hy

'n bossie uit, laat dit met die wortels na bo staan en hol dan weg

so hard as hy kan. Hy vertel as die spook 'n bossie onderstebo sien

staan, dan verbeel hy hom dat die bossie so gegroei het. Hy bly dan

daar staan en verwonder hom hoe die bossie so kan groei. As daar

'n windjie kom en die bossie omstoot, woerts! spring die spook weg

en is weer by die een wat die bossie onderstebo geplant het; want hy

sien dis maar alles foppery.

As 'n ster verskiet--vernaamlik as dit 'n lang ligtrein agterlaat--,

dan meen die Boesmans dat 'n bekende of 'n vriend sterf; die ster

wys aan waar die persoon woon, en gewoonlik is dit iemand van wie hul

lank nie tyding gekry het nie. Met verneem kry hul die slegte tyding

'n paar dae daarna.

Boesman-Stories, Deel 3. Die boesman self, sy sedes, gewoontes en bekwaamhede · 第 20 / 55 题