OPMERKINGS:--In hierdie Verhaal vertel ons oor die baie bygelowe
wat onder Boesmans bestaan. Dis so sterk by hulle ingewortel dat
dit amper net soos 'n soort godsdiens kan beskou word.
In die Boesman se gedagte bestaan baie denkbeeldige diere wat
bo-natuurlike bekwaamhede en eienskappe besit. Ons sal met die Groot
Waterslang begin:
Die Groot Waterslang het 'n skitterende en fonkelende steen op sy kop
en besit die mag om fonteine te laat vol word of te laat opdroog. Hy
luister baie mooi na die Boesman-towenaars en volg die jagters onder
die grond orals in die waterlose streke. Waar hy is, borrel die
fonteine oor, of hy bring die water tot ná onder die oppervlakte van
die grond, sodat die jagters net nodig het om 'n vlak gaatjie te grawe
om volop water te hê. Dit is dan die gaatjies wat toegestop moet word,
waaruit die water met 'n hol riet gesuig moet word.
Sodra blank jagters die woesterny agter wild intrek, dan, al wat die
Boesmans te doen het, is om met die Groot Waterslang te praat, en hy
laat die sterkste fontein vlak voor die oë van die blankes opdroë,
waardeur hulle verplig word om om te draai en nie verder wild meer
te skiet nie. Ons het in Deel I reeds baie van hierdie Slang vertel
en van alles wat hy kan doen.
Ons het 'n paar blank mense ontmoet wat voorgee dat hul sodanige Slang
gesien het. Op 'n plaas in die Piketbergse distrik het 'n man ons
'n vaalgroen steen gewys wat hy beweer die Slangsteen te wees. Hy het
nog verder gegaan en ons vertel dat persone deur slange gebyt daarmee
deurgehaal is. Want dit word beweer dat as iemand deur 'n giftige slang
gebyt is, en 'n mens plaas die steen in melk en daarna op die bytplek,
dat die slanggif by die wond uitkook. Dit moet herhaal word deur die
steen elke maal in die melk terug te plaas, dan weer op die wond te sit
tot die gekook ophou. Ons het dit self nie gesien nie--dus laat ons
die saak hier. Alleen kan ons beskrywe die steen wat aan ons in 1882
deur die heer Gert Visser, van Tierkloof, distrik Piketberg, getoon is.
Die steen is vaalgroen, ongeveer so groot as die voorlit van 'n vinger,
en skyn van dierlike oorsprong te wees; maar dit kan ook iets anders
wees. Dit voel nie swaar nie en vertoon amper nes die haarklip
(asbestos) en besit die eienaardige glans van daardie gesteente,
maar is glad nie 'n skitterende steen nie--soos die Boesmans beweer--,
wat in die dag blink nes 'n ster en in die nag nes 'n kool vuur. Wel,
dis soveel as ons van die affêre af weet.
Van die Reënbees het ons ook reeds baie vertel. Hy is die reënmaker
van die Boesmans. Dog, sover ons van hom weet, bestaan hy net in die
gedagte van die Boesman. Stories word vertel dat hy hom kan verander in
'n Boesman en verlief word op die Boesmans. Soms verander hy hom in
'n koei en laat haar ewe geduldig melk. Sy woonplek is in seekoegate,
en, net soos die seekoei, kom hy uit om op die lang gras onder die
bome te wei. Waarskynlik is dié gedagte aan die seekoei self ontleen,
dog in hulle tekeninge skilder hul hom af nes 'n os met horings.
Leeu, Tier, Wolf en Jakkals word ook voorgestel as afstammelinge van
die ougeslag Boesmans. Vra 'n mens aan Boesmans hoe hul dit weet,
dan antwoord hul met 'n weervraag: "Waar kom daardie goed se sterkte
en krag dan vandaan?"
Die hart van die jakkals word nooit aan kinders gegee om te eet
nie. Want 'n jakkals is baie bang en hol op die hoor van die geringste
geritsel weg. As kinders die hart eet, word hul net sulke bangbroeke
en hol dan weg as daar nog geen gevaar is nie.
Die Boesmans vind die gebrom van 'n volstruis mooier as die gebrul van
'n leeu. Daarom, as hul 'n volstruis skiet, dan moet hulle kinders
die longe van die volstruis rou eet; want as hul die longe gaarmaak,
dan verloor dié hulle eienskap om die kinders 'n harde stem te gee. Dit
word by seker geleenthede gedoen.
Boesmans glo dat hul 'n uil kan betower en hom dan na die hutte kan
stuur om daar te hoe-ho en die dood van die ongewenste persoon aan
te kondig. Gaan so een uit die hut om die uil weg te ja, dan val hy
daarbuite op die plek morsdood. Die uil self word as 'n groot towenaar
beskou en kan enigeen laat sterwe as hy daartoe lus het. Daarom, reken
hul, is dit die beste om maar in die hut te bly as 'n uil buite in
'n boom skree.
As iemand 'n slang beseer, of selfs net die kop met 'n entjie lyf
afbreek, dan kom daardie slang op die stuk (waar die kop nog lewendig
aan sit) na die huis van die persoon wat die slang seergemaak het,
hy steek hom daar êrens in 'n hoekie of in sy kooigoed of in sy
velskoen weg, en lê daar klaar om die persoon dood te byt. Dit is ook
'n Hottentot-bygeloof.
Boesmans laat nie hulle kinders op vars springbokvelle speel nie, of
hul mag nie die vars bloed of vleis aan 'n boog, pyl of pylkoker laat
kom nie. Want dan trek die gees van die springbok in die kinders of
in die eienaar van die pyl en boog, waar deur die springbokke in die
veld vir sulke persone wild word en gee hul dan verder geen kans om
naby te kom nie--hulle bly dan vir altyd ongelukkige springbokjagters;
ook met skiet skeur die vleis van hulle duim en voorvinger af.
Uit eerbied vir die man se pyle, eet die meide nie die boblad van
'n springbok nie: ander parte kan sy maar eet.
Om reën te maak, slaan net meide met klippe op die grond, die Reënbees
hoor die gestamp en laat dan reën deur donderweer op te roep.
Paddas is die kinders van die Watergees. Hulle was vroeër jongmeide
gewees wat deur die donderweer doodgeslaan is, of, liewers gesê, wat
die weer met swaarweerstene doodgegooi het. Die Boesmans glo dat seker
stene wat op die veld te vinde is, niks anders is as swaarweerstene
wat van tyd tot tyd daar geval het.
Boesmans glo ook dat springbokke onsigbare pyle het, waarmee hul
'n mens onopgemerk kan skiet. Die pyle gaan binne in die lyf van
'n mens en maak hom siek; en as hy siek is, dan skiet hy altyd mis.
Persone wat hul op die jag toelê om altyd raak te skiet, moet by
voorkeur die vleis eet van diere wat mak is en wat stadig hol. Want
as hy altyd springbokvleis eet, dan gebruik hy vleis van 'n dier wat
baie vinnig hol. Die springbokke is vir so een baie wild. Maar eet hy
die vleis van 'n dier wat langsaam hardloop, dan word die springbokke
vir hom ook mak en laat hom naby hulle kom. Die springbok is 'n dier
wat snags nie slaap nie--dus as die jagter net sy vleis alleen eet, dan
gaan die gensbokke en hartbeeste ook nie snags slaap nie en bly dan vir
daardie jagter net so wild as springbokke, deur net so rond te vlug.
Wanneer 'n slang by 'n graf gesien word, dan moet hy gerespekteer en
nie doodgemaak word nie; want hy bring goeie tyding van die een wat
daar begrawe lê, of hy bring goeie tyding aan die gees van daardie
afgestorwe persoon.
Ons het reeds tevore genoeg van die Hamerkop (-voël) vertel en sal
dus hier nie herhaal wat ons reeds meegedeel het nie.
Sulke diere as hierbo genoem, word hoog deur die Boesmans
gerespekteer, naamlik by die geleenthede soos ons vertel het; dog
as die gevaar daar is, moet hul maar net so goed verbydraf as die
swakste goggatjie. Honger en dors sal nooit vir 'n Boesman wette kan
voorskrywe nie; hy volg die natuurwet na: Eers ek, en dan 'n ander.