XVII.

Die trek was lang en swaar,

die hele nag,

deur reën en wind

—die swarte donker elke keer

herskep in helder dag

deur flikker-blitse,

ligtend op die lange ry

van waens

en diere, steunend in die tuig en juk—

hul pligte nooit versakend.

En, as onwillend-traag, was skaars

die lang verbeide dag ontwaak,

of plotseling

het knetterend kleingeweer

die aanvang aangekondig van ’n stryd.

En heeldag het dit aangehou

nou digter by,

en dan weer ver,

by-wyle heeltemal bedaard,

tot net ’n skot of drie

nog word gehoor,

meteens dan wakk’rend weer

tot woedend-fel gekraak

aaneen....

Gewonde meer en meer

word aangedra na die ambulans,

en dokter en verpleegsters het

hul hande vol

—en Martjie ook daarby.

Sy béwe elke keer

as een word aangebring,

nie wetend of sy dalk,

in smartverwronge trekke, nie ook hom

sal moet herken.

Sy wens dit byna, hatend dan haarself

om so’n wens.

Die angs is nie te hou nie, want

daar’s iets wat haar ’n ongeluk voorspel,

die slag moet val, sy weet nie waar of hoe.

O, was ’t maar gou!

Sy weet hy ’s daar:

die môre vroeg het sy hom weer

die eerste keer gesien.

Dat sy ook daar is weet hy nie:

te perd het hy

die wa verby geja, van agter op,

met burgers na die front.

Sy het hom by sy naam wil roep,

maar in haar boesem het ontroering so

haar stem gevang

dat oor haar lippe net ’n fluist’ring kom.

Tevrede moes sy wees hom so

nog agterna te kyk

—so fier en kloek te perd, sy hoof omhoog,

as dorstend vir die stryd.

* * * * *

Burgers kom in klompies aangery

en gaan verby:

die orders is om t’rug te val,

die oormag van die vyand is te groot,

hul trek van ver

die stelling om.

Die ambulans, met rooikruis vlag omhoog,

moet daar bly staan

—verplegend swaar gewonde, in groot getal.

Martjie het moeite om

haar aandag aan haar werk te wy,

onrustig blik haar oog

na buite, elke maal,

of sy hom by die ander nie gewaar,

hoewel sy weet—sy kan nie sê waaróm—

dat hy nie met die ander daar

verby sal gaan.

* * * * *

Die laaste burger is al lang verby

as by die rooikruis-wa

die vyand sy verskyning maak,

en groter word hul aantal steeds.

Die dag se stryd en woeling word bepraat

en Martjie hoor vertel

hoe ’n klompie burgers dáár,

op daardie voorste punt,

was afgesny,

en almal doodgeskiet of swaar gewond,

behalwe éen:

en aangehou het hy alleen, totdat

sy laaste skot was weggeskiet,

en menigeen deur hom

sy dood moes vinde;

in hande is hy nou

en sal, nog voor vanaand,

met eie lewe moet betaal

die lewens wat hy so genome het

terwyl die stelling reeds

verlore was,

die stryd alreeds beslis....

Martjie het genoeg gehoor.

Sy weet, sy voel wie daardie burger is

al het haar niemand dit vertel.

Sy’s weg,

te voet,

meteens,

geen sterw’ling kan haar keer....

Die pad verlatend

pyl sy reg,

deur veld en bossies op haar doel.

Dis ver,

en opdraend,

maar sy stap,

sy stap,

en kyk net vóor haar.

O, sy kan nie meer—

’n uur, gewis,

sal sy moet stap!

Sy struikel,

nee, sy’s weer oorend,—

sy stap!

Die dorings pluk

en skeur,

sy struikel nogmaals....

Op!

Maar nee,

op hande en knieë

kom sy neer:

sy moet,

sy moet by asem kom....

Bedaarder nou

en stadig aan

—so kom ’n mens die verste....

Wat!

bedaard en stadig aan!?

terwyl hy reeds

word uitgelei, miskien....

die roers al aangelê....!

’n Roep van angs

ontsnap haar bors,

aan elke oor het sy

’n vingertop gedruk....

sy draf,

sy draf!

.........................

Hoe lang het sy al so

in onmag daar gelê?

Hoe kom sy daar?

Verwonderd kyk sy om haar heen....

O, ja, sy weet,

sy weet meteens....

O, waarom was sy tog so swak

om daar haar kragte te verlies:

die laaste bultjie lê net voor, sy kan

al stemme hoor....

Sy’s op,

sy stap,

oor klippe groot en klein

na bowe!

Wie het haar

so reguit op haar doel gelei?

Bo die laaste klippe

kom meteens

’n hoof en skouers uit

—dis hy!

Sy arme het hy op sy bors gekruis,

sy hoof omhoog,

sy oë fier gevestig,

of hy iets verwag

wat hy nie vrees nie....

„Roelf!”

Hy hoor haar stem

en maak meteens

’n snelle wending met sy lyf en hoof,

die selfde oënblik kraak

’n sarsie kleingeweer

en stort hy agteroor,—

met dowwe smak, en weerslag, raak sy hoof

die harde grond,

dan lê hy stil!

Sy’s daar,

by hom.—

Eerbiedig op ’n afstand bly

die ander staan....

Sy hoof het sy gelig,

met oë geslote rus dit op haar arm,

’n kol van donker-rood

is op sy bors—

dit dy en dy al groter uit....

Hy slaan sy oë op,

met glimlag van herkenning sien hy haar.

En sonder woord van haar het hy verstaan

dat sy ’n boodskap nog van hom kom vra

eer-dat hy gaan....:

„Martjie....

„ek het eenkeer lief gehad....

„die dood het haar

„van my af weggeneem.

„Jy wis dit nie....

„Ek het jou hart verstaan,

„maar wou nie praat,

„ek het gemaak of ek dit nie kon sien,

„en vrolik het ek my

„maar nog gehou....

„al het ek smart gevoel

„vir jou....

„Vergéwe my....

„Ek dag om so te wag, totdat die tyd

„my dalk sou leer....

„om jou ook lief te kry,

„soos haar,.... wat ek.... verlore het....

„dit mog nie wees nie, Martjie....

„en.... ek het gevoel....

„dat ek aan jou, en niemand,

„minder ooit mog gee

„dan ’k eenkeer.... had gegee....

„aan haar....”

Spraak’loos het sy aangehoor;

ontroering hou haar stem in boeie vas,

ook nou dat hy,

met oë wyd-onrustig starend,

lê te wag

dat sy moet praat.

Sy buig haar hoof

en fluister in sy oor:

„jy ’t goed gedaan!”

’n Handdruk, lang en innig, is haar loon.

Dan val die grote oë stadig toe,

tevrede....

Sy vingers lê nou magt’loos in haar hand....

En op die gras-saad van die vlakte sterf

die dag se laaste sonnestraal.

Martjie · 第 24 / 24 题