VIII.

Roelof, in ervaring reeds geryp

en ouer in jare as Martjie,

het van sy aankoms af

die aansien en die agting reeds gewin

van almal in die dorp.

Maar Martjie moet sig wel beken

dat nie juis daarin nie

die rede lê

dat sy in hom

’n ander en ’n meerder sien

as in die ander jonkmans om haar heen.

Onagsaam deur ’n jonge man

te word verby gegaan,

wat wêrd is dat sy hom

haar agting of ten minst’ haar aandag gee,

word deur geen jongnooi

goedskiks ooit verdra.

Wyl ’t haar gelyk het van begin

of Roelf eenvoudig net vir haar beskou

as een soos pa en ma,

moes Martjie ondervind,

nie weinig tot haar eie verbasing, dat

sy haar oorstelp gevoel het deur

’n bang v’rontrusting,

nee, deur wanhoop, sou sy byna sê.

Die dwaasheid daarvan het sy toe haarself

wel voor-geredeneer,

sig vraend waaroor sy tog wel

te wanhoop had;

en kwaad, dat so’n beroering haar,

so helder van verstand,

so’n dwase kyk op mense en dinge gee.

Maar nou dat alles weer verby is

en dat Roelf,

d’onskuldige oorsaak, daar nog altyd staan

so vas en kalm-onwetend

soos ’n rots

wat bo die golwe ongedeer

hom nog vertoon,

nou moet sy nogmaals ondervind

dat die verhouding nog maar nie vir haar

bevredig nie.

Dis swaar vir haar om hom met rus te laat,

met moeite moet sy haar bewaak, bedwing,

om in haar plaery

nie al te ver te gaan;

te meer omdat sy altyd merk

hoe hy, in weerwraak op haar grappies, hom

die selfdwang oplê, waar sy nie

die rede van deurgrond nie,

wat hom altyd noop

om òm te draai

as hom sy jonge bloed

tot naad’ring wil beweë.

Selde of ooit sal hy

uit eie beweging ook met haar

’n plaery begin;

en baie maal

het sy reeds opgemerk

hoe hy, as ma en pa teënwoordig is,

hom meerder vryheid gun met haar

dan as hy hom met haar alleen bevind.

So bly nog hul verhouding steeds

’n bron van onrus en van twyfel,

tot daar iets gebeur

wat plots’ling nuwe lig ontsteek vir haar,

en onmiskenbaar is:

[Illustration]

Martjie · 第 15 / 24 题