V.

Oom Kootjie, jeugdig nog van hart,

en elke dag aan Roelof meer geheg,

het lank al reeds gesê:

„kyk Roelfie, op die dag,

„as ek jou eind’lik hier op Uitkyk het,

„haal ek ’n bottel ou-wyn uit

„en drink ons jou gesondheid almal saam.”

Oom Kootjie wil sy woord nou hou,

en ’t tref ook net vandag

dat ou neef Kasper en sy vrou

op Uitkyk aan sal ry,

—vir ou tant’ Mieta nog ’n rede meer

die glans van hulle fesie te verhoog

met tert en koeke

vars en geurend uit die oond.

’n Tafeltjie staan buite reeds gedek,

neef Kasper en sy vrou word daar ontvang.

Wat sou ’t met Martjie wees?

Sy staan gekleed en klaar

om uit te gaan,

en sal vandag

nie daar wees by die klompie nie:

Ja, gist’r-awend het sy nie

in slaap geval

eer sy ’n middel had bedag

om haar besluit teen Roelf

gevolg te gee:

in plaas van ook sy welkoms-fees

met vrolik-lief gesiggie by te woon,

sal sy verklaar

op boodskap te moet gaan

wat nie meer uitgestel kan word.

Maar nou sy reeds het opgemerk

hoe hy vir haar

dieselfde is as elke dag,

en daardie handdruk van gist’r-aand

vergete het

of heelt’mal nie beskou

as blyk van soet geheim wat sy aan hom

in stilte het vertrou,

nou voel sy grote lus, haar plan

van uitgaan te laat vaar

en daar te bly, by hom.

Sou ’t blydskap wees omdat sy haar

in hom vergis het;

of sou dit wees dat sy maar net gevoel:

natuurdrang van haar meisieshart

gerus ’n vryer teuël te kan gee

waar geen gevaar bestaan

dat hy die hele hand sal neem

as net ’n vinger hom word aangebied?

Maar dis al tyd

dat sy moet gaan,

haar klein komedie moet sy nou

ten einde speel.

Dis ander dae nooit gebruik by haar

’n hand te gee,

as sy so heen en weer op boodskap gaan,

maar, vir ’n grap sou sy dit net

vandag wil doen,

ja, skynbaar vir ’n grap

maar eintlik wel

om Roelof ook ’n beurt te gee

haar hand in syne vas te hou.

Plots’ling kry hy nou

gedagte weer

aan Martjies groet gist’r-aand,

en op sy beurt hou hy haar hand

in syne nou gevang

terwyl hy laggend sê:

„Nee wag, jy ’s al te haastig,

„laat ek hul nou eers vertel:

„Tante, pas maar op vir Martjie, hoor,

„wat sy makeer gaan bowe my verstand,

„daar ’s muis-nes in haar kop....”

En daar word die hele storie van gist’r-aand

vertel.

Sy ruk haar handjie los uit syne

en haas haar stap

om weg te kom.

Ja, soet geheim, voorwaar!

Hoe kon sy tog van hom ooit so iets dink?

Dáar word dit aan die laglus prys gegee

van almal saam!

Sy voel dat haar gewete suiwer is,

maar waarom dan voel sy soos een

wat heelt’mal is verslae?

„Dis duid’lik,” sê sy by haarselwe,

„hier moet anders word te werk gegaan....”

Te werk gegaan!? Hoe kom sy tog

aan so’n gedagte;

wat is dan haar doel

waar sy na streef,

of syne, wat sy moet verydel?

Nee, sy vind op al die vrae

geen antwoord nie;

en elke dag word sy haarselwe nou

tot raadsel, meer en meer.

Hoe klugtig was haar swaar bewapening,

waar nooit ’n aanval was te vrees

.... en moontlik ook geen vrees sou wek!

[Illustration]

Martjie · 第 12 / 24 题