VOORWOORD.

Die Delwerye! wat roep dit voor ons oog?

=Armoede! Ellende! Ontaarding! Sedeloosheid!=

Dis wat die meeste mense, met g’n bekendheid daarvan, dink.

Die Delwerye! daar lê skatte begrawe—en die mense stroom van al die dele

van Suid-Afrika daarheen in die mening dat dié skatte hulle uit hulle

armoede sal red en hulle ellende sal laat ophou, dog teleurstelling

wag die meeste, en teleurstelling bring bitterheid van gevoel teen die

samelewing, teen die Kerk en soms teen God.

Die Delwerye! daar lê skatte begrawe,—skatte van menselewens, van

mensekrag, van mensemateriaal. Skatte vir die Staat, vir die Kerk, vir

die Letterkunde. Die Staat moet rekening hou met die Delwerye, want

tevergeefs sal ons die Russiese Bolsjewisme buite ons grense probeer

hou, terwyl ons die gees van daardie kwaad kweek in ons eie midde. Die

Kerk moet planne beraam om die Troos en Krag wat die Evangelie alleen kan

gee, meer gereeld en gedurig te bring aan dié wat anders hulle troos sal

soek in wêreldse middels: brandewyn en ydel vermake. Die skrywers kan

gerus hulle aandag wy aan die opeengehoopte mensemateriaal wat skatte

inhou wat ons opbloeiende letterkunde tot groter heerlikheid sal bring.

Die Skrywer van die „Delwerysketse” doen baanbrekerswerk—prospekteerwerk.

Hier en daar, soos sy opvoedkundige werk hom toegelaat het en in

aanraking met die delwersgemeenskap gebring het, het hy gate gemaak en

orals het hy bewyse gekry van diamanthoudende grond. Hy het gesien watter

skatte daar verborge lê en het gedronge gevoel om dit aan die wêreld van

Staat en Kerk en Letterkunde bekend te stel. Vir dié ontdekking sal ons

hom altyd dankbaar bly, en ons sal altyd sy „Ontdekkersregte” in ag neem

en respekteer.

Delwerswerk is op die oog morsig—in die stowwerige aarde en in die

morsige klei moet gegrawe word. Hope waardelose „rof” word deur die

„bebe” afgeskud voor ’n mens met die wassery kan begin. Die wassery is

’n eentonige besigheid, en dis tog ’n kuns—nie te vinnig nie, ook nie te

stadig moet die masjien draai nie, en die „porrel” moet steeds dieselfde

dikte hou. Jou klere en gesig word meesal vuil bespat en gee vir die

meeste ’n afkeer van die werk. Al die kante van die delwerswerk word deur

die Skrywer getoon: die „rof”—die vloeker en drinker; die „porrel”—die

mengelmoes-gemeenskap wat deur die lewensmasjien deurmekaar gedraai word,

’n ondeursigtige moddermassa; die sif, waarmee die „gravitating” geskied

en die egte diamant sy karakter bewys deur bo te lê as die sif omgekeer

word. Die egte diamant word maar hier en daar gekry; ’n geoefende oog is

nodig om, as die sif omgekeer word, uit die miljoene blink klippies die

ware diamant te sien, maar as die edelgesteente in ons hand lê en ons

bewonder sy skoonheid, dan vergeet ons die harde werk, die vuil klere en

al die waardelose weggekrapte „was” in ons blydskap oor die skat wat ons

uitgehaal het.

In die hoop dat dit die Skrywer mag geluk om deur sy sketse by ons Volk

op te wek ’n groter belangstelling in en groter liefde vir die skatte

wat begrawe lê in die delwerye, beveel ons die lesing daarvan van harte

aan by almal wat Suid-Afrika en sy Volk liefhet.

E. J. J. van der HORST.

Wolmaransstad, 26 Februarie 1925.

Op die delwerye · 第 5 / 34 题