"DIE DIEREDANS" DEUR BOESMANS UITGEVOER.
OPMERKINGS:--Hierdie storie stel voor die wyse waarop Boesmans
die diere in hulle danse namaak en naboots; want die Boesman is 'n
uitstekende klugspeler, en 'n nabootser soos ons min sal kry. Een
aand moes ons met ons vader in die veld naby Katkop aan Sakrivier,
Calvinia, vernag. 'n Paar honderd tree van ons uitspanplek af was
Boesmans (wat dié dag 'n goeie jag gemaak het) besig om te braai
en te dans. 'n Ou vrind wat met die Boesman-taal en -gewoontes goed
bekend was, stap mee. Ná hy aan ieder 'n pruimpie tabak gegee het,
vra hy die Boesmans om die dans van die diere uit te voer. Onder
die verrigtings kon hy ons die nodige inligtings gee. Verder in
dieselfde jaar, op Vryegans, Agter-Pêrel, het 'n Boesman, Hans,
met ons saam vee opgepas. Van elf- tot drie-uur in die dag staan
die vee onder die eikebome, daar die blindevlieë en muggies hul
so pla; dan het ons wagtertjies baie tyd om te speel, en Hans het
ook oorgenoeg tyd om sy stories te vertel, sy klugspele uit te voer
en te dans. Sy beloning is: ons oorskietkos en koffie. So het baie
van daardie deuntjies en woorde van die riele ons bygebly, wat ons
ook later aangeteken het. Byna al die diere kom aan die beurt;
dog ons gee slegs enige, om sodoende die leser nie te verveel
nie. Toe ons 'n kind was, was ons nogal 'n taamlike ekspert om
riele uit te kerf.