OPMERKINGS:--In hierdie storie word ons iets oor die lewenswyse
van mierkatte en erdmannetjies vertel. Die erdmannetjie is die
waaierstertmierkat, wat niks anders is nie as 'n eekhorinkie wat
in die grond saam met mierkatte woon.
Daar was 'n droogte wat strawwer en strawwer geword het; die waters
gee op, en die wild trek weg. So moes die Boesmans en diere ook maar
volg--almal in die koers van die wild.
Twee huisgesinne van Boesmans het saamgetrek. Op pad het hul dit
met kos en water baie swaar gekry, en hulle kinders huil net gedurig
oor kos en water. Dit het die ouers hulle harte net seer laat voel,
sodat hul soms saam met hulle kinders wou huil. Hier en daar kry hul
'n veldkossie of tel 'n skilpad op of kry 'n nes van 'n lammervanger
of kuikendief waarin òf eiers òf kleintjies is; ook moes hul soms
muise en akkedisse vang om daarmee hulle kinders in lewe te hou.
Maar hoe omtrent water? Dit was hulle doodsteek!
Een aand toe die kinders al van dors wou sterwe en hul algar met
hulle koppe op die grond radeloos lê, hoor die een ou Boesman vir
Groot-Waterslang onder die grond kruip. Dis die groot slang met die
skitterende steen op sy kop, wat vir die Boesmans water in die dor
streke maak.
Die ou man begin met Waterslang te praat; hy strooi gemaalde boegoe
op die grond dat die slang kan ruik en moet weet dat hy water moet
kom maak of aanwys. Hy het die slang geprys, toe weer mooi gepraat,
totdat die slang onder die grond antwoord gee en sê dat as dit in
die oggend lig word, sal hy vir die Boesmans kos en water hê.
Die treurige nag het swaar verbygegaan. Eindelik breek die dag, en die
slang onder die grond roep uit: "Stap na daardie bome waar daardie
groot rotse is; daar op daardie plat klipplaat is 'n baie diep gat
water, wat nooit leeg word nie. Neem julle boë saam en julle sal daar
iets te skiet kry."
Die mans, ewe bly, gryp die leë volstruiseierdoppe; ook neem hul hulle
boë en pylkokers mee. By die water kry hul vir jakkals met sy vrou
en kinders. Hy hol lafhartig weg, dog die Boesmans skiet sy vrou en
al sy kinders dood. Toe drink hul en maak die leë eierdoppe vol om
dié aan hulle vroue en kinders te bring.
Dit was nie eens nodig nie, want by hierdie tyd kom die meide met die
kinders aangestap. Hulle drink en drink asof hul nooit kan klaarkry
nie. Ná die dors verslaan was, maak hul vuur en begin somar al die
vleis van die jakkalse te braai; en op hierdie manier stil hul ook
die groot honger van hulle en van die kinders. Toe haal hul die
hongergordels, of hongerbande, van hulle lywe af en voel toe of hul
nou lekkerder kon asem skep. Van die jakkalsies hulle velle word toe
kinderkarossies gemaak.
Jakkals, natuurlik, voel bedroef oor sy vrou en kinders wat dood
is en wat die Boesmans nou sit en braai. Hy kry die ruik van hulle
gebraaide vleis, en hy sit op veilige afstand bitter te tjank. Intussen
roep hy uit: "Pas maar op vir julle kinders! As ekke wat Jakkals is,
hulle in die hande kry, dan sal ek hul wys hoe dood lyk."
Die ou Boesman roep terug: "Solank ekke wat Boesman is, lewe, sal jy
wat Jakkals is, vir hulle nie in hande kry nie--dit beloof ek jou!"
Waarop Jakkals teëwerp: "'n Dag is 'n dag dat ekke hulle in hande sal
kry! En dan sal hulle dit gewaar!" En hy tjank en huil weer bedroef. Om
nog veiliger te wees, draf hy weg na die randjies se kant toe en gaan
daar muise vang.
Nou sien die Boesmans daar naby die nes van 'n lammervanger
(voël). Hulle gaan die kleintjies, wat al vol vere was, uithaal;
en hul braai dié ook vir hulle kinders.
Lammervanger--net soos Jakkals--voel bedroef en huil oor die kinders
en roep ook uit: "Pas op vir julle kinders! Waar ek hul kry, daar
sal dit nie goed met hulle afloop nie!"
Andermaal roep die Boesman terug: "Solank as ekke wat Boesman is,
nog lewe, sal jy wat Lammervanger is, vir hulle nie in hande kry nie!"
Lammervanger gebruik dieselfde woorde as Jakkals en werp teë:
"'n Dag is 'n dag dat ons ontmoet. Pas maar op soos jy wil!"
Daar die Boesmans moeg was en nou vereers genoeg kos en water gekry
het, besluit hul om daar op die plek enige dae oor te bly om die
water op te pas en om te kyk of daar nie wild sal kom drink nie. Dan
kan hul daardie wild ook skiet.
Daar het genoeg wild gekom, want Waterslang het mooi vir sy mense
gesorg. En daarby het hy hul vertrou. As hy êrens gaan wei, steek hy
die blinksteen wat op sy kop is, sorgvuldig weg eer hy veld-toe gaan.
Nou, as iemand in besit is van so 'n steen, is hy vir altyd gelukkig;
daarom kom daar ontroue gedagtes by die Boesmans op, en hulle maak plan
om hulle weldoener van sy kroon te ontroof. Hulle loer toe die groot
slang af om te sien waar hy die skitterende steen wegsteek. Toe hy
vèr in die veld was, neem hul die steen, en hulle algar vlug daarmee
ver weg.
Toe die slang terugkom, soek hy na die steen, maar kon dit nie
vind nie. Dog Lammervanger, wat al die tyd in die boom gesit het,
het gesien dat die Boesmans die steen gesteel het en daarmee gevlug
het. En hy vertel dit aan die groot slang.
Net toe kom daar leeus water drink, en die slang vra vir die leeus
om die Boesmans te agtervolg en hul dan dood te byt.
Die leeus was dadelik gewillig uit erkentlikheid dat die slang vir
hulle water gemaak het; en ook, hulle het net lus vir Boesman-vleis
gehad. Hulle vat die spore, loop vinnig en vind die Boesmans aan
slaap. Hulle byt die grotes dood, en die kinders vlug in nou gate,
waar die leeus hul nie kan bykom nie. Hulle eet toe die oues op; dog
die kinders bly in die gate. Die slang kom toe daar en was weer baie
bly om sy gewaardeerde steen terug te kry. Hy het geweet die kinders
was onskuldig, so doen hy aan hul niks nie.
Dog Jakkals en Lammervanger het anders gedink en het hul voorgeneem
om wraak uit te oefen, so het Lammervanger oordags en Jakkals snags
die kinders opgepas. Om hierdie rede het die arme goedjies 'n baie
ongeruste lewe gely. Die kinders wat karossies van wildvelle gehad het,
het mierkatjies geword; en dié wat karossies van die jong jakkalsies
se velletjies gehad het, het erdmannetjies geword; dog hulle het
altyd saam in dieselfde gate gewoon.
Soggens, as die son uitkom, dan steek eers een sy koppie by die
gat uit om te kyk of hy nie dalkies vir Jakkals of vir Lammervanger
sien nie. Gewaar hy niks nie, dan kruip hy uit die gat en gaan daar
penorent regop in die son sit om hom eers warm te maak. Dan roep
hy die ander en sê vir hulle dat dit veilig is en dat hul gerus
maar kan uitkom. Die ander kom dan ook kersregop in die sonnetjie
sit. Daar gesels hul nou oor wat hul gaan doen. Wei-wei stap hul van
die gate veld se kant toe. Vuur kan hul nie maak nie, daarom sit hul
in die sonskyn; water drink hul nie meer nie--om die waarheid te sê,
hulle durf nie so ver stap nie; daarom moet hul maar die doutjies van
die plante aflek, en verder grawe hul sapperige wortels en plante en
soek goggas om te eet; want hulle ouers, wat eers vir hulle rysmiere
gegrawe het en wat vir hulle vuur gemaak het, is nou dood en deur die
leeus opgeëet en kan dus vir hul teen aanvalle nie meer beskerm nie.