OPMERKINGS:--Hierdie storie is aan my in 1885 deur 'n Transvaalse
Boesman vertel.
Die hamerkopvoël weet van meer dinge as ons van weet. Diegene wat
verstand het, verstaan wat hy vertel; maar dié wat nie verstand
besit nie, weet ook nie om hom te verstaan nie. Hy bou sy huis bo-op
'n oorhangklip van 'n steil klipkrans wat by 'n gat water is. Sy
nes maak hy van stokke en gras, en dit is so groot dat dit 'n halwe
wa-vrag hout is. Die deur van sy huis maak hy op die randjie van die
oorhangklip, sodat hy maklik na onder in die gat water kan kyk.
In die water sien hy die gedaante van bome, berge wolke, van die
son, maan en sterre. En hy verstaan alles wat dié goeters vir hom
kom vertel. Hy gaan dan die tyding aan die betrokke mense vertel;
want hy bly nie stil as hy iets weet nie.
Die swaweltjies (kransswaweltjies) maak weer hulle huisies onder die
oorhangklip. Die nessies lyk soos die maan, waarvan die twee horings
na bo staan. Die kransswaweltjies bou hulle huisies van klei op
'n hoop en maak nie tuite vir deurtjies soos die huisswaweltjies
nie. Daarom lyk hulle nessies in vorm nes die afsterwende maan;
want Hamerkop het hul gesê om dit so te bou.
Nou, die maan, as hy 'n bak na boontoe maak, dra die lyke van mense
wat net gesterwe het. En die swaweltjies is gestorwe kindertjies wat
weer lewendig geword het. As die maan weer half word, dan verdwyn
die holte, en dan is daar nie meer plek vir die kindertjies nie;
so val hul uit die lug en word dan swaweltjies. Hamerkop gaan hul
dan haal en bring hul na die nessies wat net soos die gehoringde
maan lyk. Ja, hy leer hul selfs om so 'n patroon van nessie te maak;
en die swaweltjies hou net baie daarvan.
Hamerkop het die swaweltjies aan Son gegee. As dit winter word en
Son trek noordwaarts weg, dan roep hy sy kindertjies om saam te gaan
waar hy lekker gaan skyn en waar hulle by 'n ander Hamerkop kan gaan
woon. Op hulle reis deur die lug soontoe, en met hulle terugreis
hiernatoe, sien en gewaar hul baie dingetjies. Dit alles gaan hul
aan Hamerkop vertel. Hy sit dan mooi na hulle tierelier te luister,
en dit maak hom ook nog slimmer.
Een aand toe dit donker word, kyk Hamerkop meteens voor hom uit sy nes
op die water (want die bek van sy nes gaan skuins van onder in). Hy
sien in die water dat 'n groot moordbende van lang swart mense in
aantog is. Hy vlie dadelik uit en roep vir Uil, wat ook daar naby sy
huis in dieselfde krans het, en sê dat hulle twee die Boesmans moet
gaan waarsku dat hulle lewe in gevaar is.
Die twee vlie toe weg en kom by die eerste en verste Boesmans hulle
kraaltjie aan. Hamerkop vlie heen en weer in die skemer oor die hutte
en maak sy skril geluid keer op keer. Uil gaan in 'n boom sit en sit
daar te hoe-hoe. Dog dit was dom Boesmans wat nie verstaan nie; hulle
klap op hulle hande om vir Hamerkop weg te ja, en die kinders neem
klippe en gooi Uil daarmee. Die gevolg was: albei, Hamerkop en Uil,
vlie bedroef weg.
Hulle twee kom toe terug en gaan by die twede Boesman-kraaltjie aan,
en hulle maak net soos hul by die eerste kraaltjie gemaak het. Ook
hier begin hul die twee weg te ja; maar daar was 'n stokou Boesman,
wat slim is en dinge verstaan. Hy roep uit dat die ander nie so moet
maak nie. Hulle hou dadelik op en hol na die ou man toe om te hoor
wat hy te sê het; want algar het hom as baie verstandig beskou.
Hy antwoord toe: "Arrie, waarom doen julle sulke dinge? Hoor jul nie
dat die twee voëls ons kom waarsku nie? Wag, stil, laat ek eers hoor
wat hulle te sê het."
Ná die voëls hulle waarskuwing uitgespreek het, vlie hul weg; en toe
vertel die ou man dat die twee kom vertel dat 'n moordbende Kaffers
in aantog is en dat die statjie se volk gereed moet wees.
Die anderdagoggend toe die swaweltjies uit hulle nessies vlie, roep
Hamerkop hulle en sê dat hul in die water moet kyk, dan sal hul 'n
moordbende Kaffers in die verte sien aankom. Die Kaffers sal vanaand 'n
kraal van die Boesmans aanval, dan sal hul weer baie kinders vermoor,
sodat die swaweltjies weer 'n klomp boeties en sussies sal bykry.
Die swaweltjies treur toe oor die slegte tyding; want hulle self
was net so deur ander vermoor of deur siekte omgekom. Hulle sweef
toe laag oor die water om daarin te kyk om te sien wat in die verte
aangaan. Daardie dag egter het stil verbygaan; al wat hul in die
water gesien het, is hoe die lang swart mense in aantog is.
Daardie aand verskiet daar baie sterretjies. Die swaweltjies kan
uit hulle huisies op die water sien hoe die sterre heen en weer
verskiet. Sommige word benoud en dink dis die swartes wat so met vuur
rondsmyt. Dog Hamerkop kom uit en kyk hoe die sterre in die lug nes
vuurstompe rondvlie. Hy roep uit: "Nou moor die groot swartes die
klein bruinetjies uit. Ek kan sien, dis by die eerste en verste kraal
waar Uil en ek gisteraand was. Hulle daar wou mos nie vir ons glo nie."
Hy kyk gedurig in die water en in die lug. Later in die nag begin weer
enige sterre met langer sterte te verskiet. Die swaweltjies word toe
weer vir die skietligte bevrees en begin weer te woel.
Maar Hamerkop sê: "Wees julle maar gerus; die groot swartes maak nou
die aanval by die twede en naaste kraaltjie, waar Uil en ek gisteraand
was; die Boesmans sit daar gewapen in 'n kliprandjie en skiet die
groot swartes by hope dood--ek kan in die water sien hoe hul omrol."
Maan was net by hierdie tyd weer bak na bo. Die dooies lê weer
in die holte; maar ná enige dae was die hol plek gelyk toegegroei
(eerste kwartier), toe val die liggame van Maan af; en toe Son uitkom,
stuur hy die bruin kindertjies van die Boesmans lewendig na Hamerkop
toe. Hulle word swaweltjies en word ewe lief deur die ander boeties
en sussies verwelkom. Dadelik begin hul naas die ander vir hulle
halfmaannessies bou, sonder dat die ander swaweltjies hulle belet.
Vir die groot swart Kaffers het die Son in swart kraaie verander--die
soort kraaie wat so in die mielielande kan pla; want Kaffers leef
mos van mieliepap. Net soos die Kaffers kan hard praat en raas, net
so 'n rumoer skop daardie swart voëls op. Daarom wou Hamerkop vir
hulle nie by hom in die krans hê nie. So het die swartgoed getrek en
woon weer waar hul vandaan gekom het, en pla daar tot vandag toe nog
straf in die mielielande; terwyl Hamerkop en die kindertjies van Son,
die swaweltjies, tot vandag toe nog in kranse saam in liefde woon.