OPMERKINGS:--Dit is die enigste storie wat onder ons aandag gekom
het waar Boesmans en Hottentots dieselfde verhaal op hulle eie
manier vertel.
'n Boesman en sy vrou het net een meisiekind gehad, wat net begin te
praat. Hulle twee stap veld-toe en neem die kind mee. Die vader help
vir die moeder om boesmanrys uit te grawe, en onderwyl sit die kind
te speel of loop naby hulle rond. Die meisiekind kon sulke snaakse
dingetjies sê, waaroor die ouers staan en lag, want sy praat nog krom.
Ná die twee oues genoeg boesmanrys uitgegrawe het, en ná hul die
kluite daartussen uitgesoek het, stap hul water-toe om die sand
tussen die rys uit te was. Die vader dra die knapsak met rys, en
die moeder dra die kind op haar rug. Onderwyl lag hul nog altyd oor
die snaaksheid van die kind. Daar spring toe 'n vlakbokkie uit. Die
vader, wat al die tyd met pyl en boog in sy hande gereed gestap het,
skiet die vlakbokkie, en die diertjie val ná 'n entjie te gehol het,
dood. Nou het hul meer kos as wat die gesin in een nag kan opeet.
Toe hul by hulle hut kom, gaan die son onder. Solank die vader slag,
begin die moeder al aan die binnegoed te braai. Dit sou vir twee
witmense en 'n klein kind oorgenoeg kos gewees het; maar vir Boesmans
is dit maar net peuselkossies. Hulle begin ook van die vleis te kook
en braai en eet een streep deur. In dieselfde tyd maak die moeder
ook die boesmanrys gaar en bêre dit in leë volstruiseierdoppe, want
hulle het dié aand net 'n groot vleishonger gehad; daarom word die
vleis net hard aangespreek. En toe hul laat in die nag gaan slaap,
was daar nog maar min van daardie vlakbokkie oor. Die ouers gaan
onder hulle velle slaap, maar die kind nie.
Dog soos 'n kind is, sit die klein meidjie aaneen te kerm oor
boesmanrys. Die ouers sê dat sy oorgenoeg gehad het en nou maar moet
kom slaap. Maar nee--die klein kind bly by die vuur sit en dwing net
oor rys, en sy begin toe hard te huil.
Leeu hoor die kind en kom kruip-kruip aan. Hy sien toe die kind alleen
langs die vuur sit, terwyl die ouers onder hulle velle lê. Hulle het
nog nie geslaap nie, want die kind raas en huil te baie. Slaan help
ook nie.
Leeu kom in die deur van die groot hut sit. Nou kan niemand uitvlug
nie. Toe die ouers dit gewaar, ruk hul hulle koppe onder die karos
en lê doodstil.
Leeu het sy planne klaar: hy wil die ouers opvreet, en nie die kind
nie. So begin hy tydsaam met die kind te speel. Hy steek sy poot uit,
vat aan die kind en speel nes 'n kat met haar.
Die ouers wou sterwe van angs, dog haal nouliks asem.
Maar die kind vind hierdie spelery van Leeu erg prettig; sy lag daaroor
en sê ieder maal: "Ek 'tieke jou! Ek 'tieke jou!" terwyl sy vir Leeu
met 'n stokkie kielie en steek.
Leeu vind hierdie soort speletjies net so prettig as die kind en word
ewe vrolik; en dit loop op 'n soort baljaardery uit, sodat Leeu soms
op die twee ouers onder die karos trap, maar hy laat nie merk dat
hy weet dat hulle daar lê nie; dan wil die vader en moeder onder die
karos van angs sterwe.
Leeu slaan aljimmers die stokkie uit die hand van die kind en paai
haar dan met sy poot. Eindelik gryp die kind 'n stompie vuur met 'n
vlammetjie aan onder die pot uit en sê weer: "Ek 'tieke jou! Ek 'tieke
jou!" en sy prop die vlam in die lang maanhare van Leeu; die hare raak
aan brand; en hoe meer Leeu sy kop skud, hoe meer die vlamme ruis. Hy
neem die vlug; en so ver as hy hol, steek hy die veld aan brand.
Toe vir die eerste maal loer die ouers onder die karos uit of Leeu
wel weg is en of dit wel waar is wat die kind uitroep: "Kyk hoe b'and
hy! Kyk hoe b'and hy!"--natuurlik in die Boesman-taal.
Daarop kruip hul onder die velle uit. Hulle sien hoe die veld brand,
hoe Leeu in volle vlam rondhol, en hoe hy eindelik dood teen die
grond neerslaan. Toe weet hul om aan die kind 'n volstruiseierdop
vol boesmanrys te gee; want sy het hul van die dood verlos. Toe kan
hul haar nie genoeg dank en prys nie.
(Die laaste part van hierdie storie moet ons welvoeglikheidshalwe
onderdruk.)