LEEU WORD JALOERS.

OPMERKINGS:--Hierdie storie is 'n staaltjie van die verwaandheid

van Leeu.

Die leeus kom dikwels in geselskap bymekaar, en dan prys hulle vroue

altyd die ape vir hulle ratsheid, die gensbokke vir hulle vlugheid,

en die volstruise vir hulle mooi stem om te brom (of brul). Dit

het die mannetjie-leeus maar min aangestaan, en hulle word daaroor

baie jaloers.

Hulle gee toe hulle ontevredenheid daaroor aan hulle vroue in die

volle geselskap te kenne; dog die leeuwyfies hou vol dat hulle gelyk

het, en dat hulle mans nie kan stry nie. Daarop sê die leeumans toe:

"Gee 'n fees en 'n dansparty, dan kan julle self van naby dit aanskou

en hoor."

"Goed!" antwoord die vroue. "Maar pas op dat julle daar nie met skande

van afkom nie."

Hulle maak die nodige voorbereidsels vir die fees daar en dan en nooi

vir Aap, Gensbok en Volstruis om op 'n bepaalde tyd daar te wees.

Toe die fees haas 'n aanvang sou neem, kom Aap tussen die takke van

bome aangespring; hy glip en wip soos 'n sprinkaan van een boom na

die ander en was in 'n ommesientjie daar.

Die vroue klap hande en juig vir Aap toe; maar nie vir hulle mans

nie. Die mannetjies van die leeus kon nie so rats spring nie, en dit

laat hul somar uit die staanspoor sleg voel; maar hul reken op wat

hul later sal doen. Ook met die dansery het Aap hul uitgestof.

Hier kom Gensbok aangehol. Hulle belê onmiddellik 'n resies; dog

Gensbok hol skoon voor die Leeus weg. Weer klap die vroue vir Gensbok

hande en nie vir hulle mans nie. Dit laat die leeumans nog 'n bietjie

slegter voel.

Eindelik kom Volstruis aan. Hy was nog ver, toe begin hy al

brul. Dadelik klap die vroue hande en roep uit: "So mooi en helder

kan julle tog nie brul nie. Volstruis brul met sy volle longe; maar

julle brul met julle mond asof jul 'n been in julle keel of julle

stert in julle bekke het." Hulle hou maar aan hande klap.

Die mannetjie-leeus brul toe, maar die vroue wil nie vir hulle mans

hande klap nie; maar net soos Volstruis voor hulle kom brul, klap

hulle hande en juig Volstruis toe.

Dit maak die mannetjies bepaald boos, en hulle begin binne in hulle

harte te skel en hulle vrouens te verwens. Een leeu bevlie vir Aap

en krap die hare van sy sitplek af, die ander leeu bespring vir

Gensbok en krap hom merke in sy gesig, terwyl die derde leeu besig

was om vir Volstruis te takel; hy krap al die vere van sy heupe

af. Daarop stap die drie mannetjies weg en laat hulle vrouens met

die klein kindertjies agter. Toe hulle drie wegstap, roep hul terug:

"Nou kan Aap, Gensbok en Volstruis, wat jul algar so danig prys,

vir julle en julle kinders sôre."

Die vrouens roep agterna: "Dis glad nie nodig dat hulle vir ons moet

sôre nie: ons kan sonder hulle klaarkom en vir onsself sôre."

Die leeus gaan toe net volstruise jag om hulle longe te eet, sodat

hul net so mooi as Volstruis uit die voorbors kan brul. En ná hul baie

volstruislonge geëet het, toe brul hul nie meer asof hulle sterte in

hulle monde of bene in hulle kele het nie.

Die vroue met hulle klein kindertjies het dit swaar gekry om kos te

vang en terselfdertyd na die kinders te kyk; hulle begin toe al sterk

na hulle mans te verlang, wat so braaf vir hulle en hulle kinders

gesorg het, al het die mans nie so danig mooi na hulle sin gebrul

nie. Dit is maar kleinighede, en hul sal nou maar snags luister

waar hulle mans brul; want toe verstaan hul eers dat dit juis die

fout is wat hul in hulle mans vind, wat hul nader na hulle weldoeners

bring. Dit het hul baie moeite gekos om by hulle mans te kom, want die

kinders is swak om na die mans te loop. Hulle neem hul toe voor om nie

weer met hulle weldoeners te spot nie; maar wel om hulle te prys waar

hul goed doen, en stil te bly as die mans nie iets beters kan doen nie.

Toe hul by die mans kom, stap dié weg; dog hulle roep agterna en

beloof om beter in vervolg te handel. Toe draai die mans om, want

hulle was baie gek na hulle kinders. Van toe af, as Volstruis brul,

klap hul nie meer hande nie; en as hulle mans brul, dan voel hul

groots en prys hulle, want dis tog harder as enige ander stem.

Dit het vir 'n lang tyd so goed gegaan, en almal het die ou rusies

vergeet, en algar voel plesierig. Maar een vrou begin weer met haar

dingetjies. Hierdie slag begin sy te veel na haar man se sin vir

Kwagga se maanhare en Langnek-kameel se kuif te prys; daarop begin

sy weer met haar man se maanhaar te spot.

Hy word toe so boos op sy vrou dat hy haar aan die kophare pak en

haar daaraan rondsleep. Hy het haar so rond en bont gepluk dat amper

al haar kophare uitgetrek was. Wat gebly sit het, het uitgeval, sodat

sy vir 'n tyd glad kaalkop rondgeloop het. Ná verloop van tyd het sy

weer kophare gekry; maar glad nie weer so lank as wat dit tevore was

nie. Die ander wyfies het so bang en versigtig geword dat hul ook

hulle kophare afgesny het; daarom is hulle hare vandag nie meer so

lank as dié van die mannetjies nie.

Boesman-Stories, Deel 2. Dierstories en ander verhale · 第 29 / 63 题