OPMERKINGS:--Hierdie storie is 'n karakterskets uit die lewe
van aasvoëls.
Daar was 'n jong Boesman wat doodverlief was op 'n jong
Boesmanmeid. Maar die vader van die jong Boesman en die vader
van die jongmeid het baie stryery in die jagveld, sowel as tuis,
gekry. Daar was amper aldag rusie tussen hulle. So het die vader van
die jongmeid later besluit om maar ver weg te trek. Hy maak so en
gaan daar anderkant die berge woon.
Nou, die liefde van die jong Boesman vir sy jongmeid, was baie
sterk. Elke nag droom hy dat hy kan vlie en dan oor die berge sweef
tot waar die ouers van die jongmeid bly. Hy droom dat hy met haar
praat en dat hulle so gelukkig saam woon.
Maar die anderdagoggend vind hy uit dat dit maar alles drome is,
en dan is sy hart baie seer. Hy probeer dan op alle maniere om te
leer vlie. Eendag kry hy dit reg om hom in 'n aasvoël te verander,
want hy was een van die Boesmans van die ou geslag.
Hy vaar toe op, op, op in die lug en maak groot draaie in die lug,
en hy kyk na alle kante toe. Eindelik vat hy die koers oor die berge
en vlie in die rigting waarheen die jongmeid haar ouers getrek het.
Dit geluk hom om die plek te vind. Hy het daar rondgedwaal, dan weer
op 'n koppie 'n bietjie gaan rus, tot hy die jongmeid sien water-toe
kom. Hy gaan digby haar sit.
Sy kyk verwonderd op en word bang, want die voël hou gedurig sy
skerp blink oë op haar gevestig. Sy gryp 'n klip om na die voël te
gooi om hom weg te ja. Maar hy verander hom dadelik in 'n Boesman;
en daar sien sy dat dit haar minnaar is. Sy was vaal geskrik en bewe
van ontsteltenis. Hy vertel haar toe dat hy haar kom haal en dat
hy haar ook in 'n aasvoël wil verander. Sy was eers skrikkerig vir
die plan. Maar toe hy aan haar vertel dat dit die beste manier is om
hulle te verander sodat hulle ouers en die ander Boesmans hulle nie
meer kan ken nie, vind sy die plan goed; en sy gee haar voornemens
te kenne om eers die water huis-toe te gaan bring en daar te bly om
die saak in die dag en gedurende die nagte te oordink. Sy en haar
twee jonger susters slaap in 'n klein klipgrot, wat al aande deur
haar ouers met klippe toegepak word.
In daardie selfde nag kom daar leeus en val die hutte van haar vader
en moeder aan en eet almal op wat daar dié nag geslaap het--net die
drie jongmeide, wat veilig in die grot was, het in lewe oorgebly.
Die jong Boesman, toe hy die oggend oor die hutte vlie, gewaar wat
gedurende die laaste nag plaasgevind het. Hy val uit die lug met
oopgespreide vlerke en kom kyk wat daar werklik gebeur is. Hy hoor
die drie jongmeide in die toegepakte grot praat. Hy roep na hulle en
maak daardie kliphuis vir hulle oop.
Ná hul met mekaar gesels het oor die treurige gebeurtenis, besluit
hy om hulle ook maar in aasvoëls te verander; want dan kan die leeus
hulle nie meer snags vang nie, daar hul dan in bome en klipkranse
kan slaap. Hy verander hul in aasvoëls, want hulle het ook aan die ou
geslag van Boesmans behoor. Hy vat toe die jongmeid vir sy vrou, en
die ander twee susters bly toe by die twee wat met mekaar getroud is.
Hulle vlie toe na die berge en gaan by die ander berg-aasvoëls
woon. Hierdie laaste berg-aasvoëls was ook vroeër Boesmans van die
ou geslag.
Die jongman was altyd baie fluks om te jag; en noudat hy 'n aasvoël
is, is hy nog net so uithaler om wild huis-toe te bring. Die ander
ou berg-aasvoëls het toe daarop lui geword en het naderhand glad nie
meer gejag nie.
Eendag skiet die aasvoëlman (dit wil sê die jong Boesman wat hom in
'n aasvoël verander het) 'n springbok en bring dit huis-toe vir sy
vrou en twee skoonsusters. Maar hulle drie gee aan die ander aasvoëls
ook daarvan. Toe die man terugkom en sien wat daar gebeur het, raas hy
met sy vrou en sê dat die ander berg-aasvoëls maar self kan gaan jag.
Die vrou stry dat dit nie sy is nie, maar wel hulle twee susters,
wat groot maters met die berg-aasvoëls gemaak het. Sy neem toe die
springbokvel, skroei die hare af, kook dit, en sny dit aan stukke. Toe
storm die berg-aasvoëls ook toe en verslind die vel met die grootste
vraatsug.
Toe die man terugkom en daarvan hoor, was hy net boos en praat weer
met sy vrou daaroor. Sy stry en werp die skuld op haar twee susters,
wat so danig maats gemaak het.
Die volgende dag gaan die man weer jag en bring weer 'n springbok
huis-toe. Die ander berg-aasvoëls kom saam met die drie susters eet;
en toe die man dit later verneem, was hy daaroor andermaal danig
ontevrede en praat weer met sy vrou daaroor. Sy, egter, hou vol om te
stry en werp die skuld op haar twee susters. Sy neem dié springbokvel
ook en brand die hare af en kook dit in 'n pot vir hulle drie om te
eet. Dog die berg-aasvoëls wag hulle kans af, storm toe, en in 'n
ommesientjie was alles verslind, waaroor die man later ook ontevrede
was. Dog sy vrou gooi die blaam--nes gewoonlik--op haar susters.
Toe sê die man aan sy vrou: "So kan dit langer nie gaan nie. Ons twee
moet die geselskap verlaat, en jy moet met my saam veld-toe gaan."
Hulle gaan toe die oggend vroeg weg om te jag.
Die berg-aasvoëls en die twee susters was toe raad-op wat die kos
betref. Hulle gaan voor die huise op die klippe sit om raad te hou. Een
sê toe aan 'n ander: "Vlie op in die lug om te kyk waarheen die man en
vrou gegaan is, en bring ons die tyding of hulle wild doodgekry het."
"Nee," antwoord een van hulle, "laat ons die jongste suster stuur
dat sy vir ons die tyding bring."
So vaar die jongste suster ('n klein aasvoëltjie) in die lug op;
sy maal en maal bo in die blou lug. Naderhand vat sy koers in die
rigting wat haar skoonbroer en suster gegaan het. Sy verdwyn in die
verte; en oor 'n hele ruk kom sy terug, val met oopgespalkte vlerke
uit die blou hemelgewelf en gaan op 'n rots tussen die ander aasvoëls
sit. Hulle vra haar wat sy gesien het.
Sy antwoord: "Ek het hulle gesien--daar ver. Die veld is mooi oop
daar waar 'n dooie springbok lê. Maar die beste sal wees dat hierdie
ouer suster van my gaan kyk; dan kan sy vir ons beter kom vertel."
Die ouer suster styg toe op met haar vlerke, draai en draai bo hoog in
die lug, en eindelik peil sy in die rigting waarheen haar skoonbroer
en suster gegaan het. Spoedig was sy uit gesig; dog oor 'n tydjie
keer sy terug, skiet uit die asuurhoogte neer en neem plaas op 'n
groot klip tussen die ander aasvoëls. Duidelik vra die hongerige
pakkasie watter nuus sy te vertel het.
Sy antwoord: "Ek het 'n groot oop vlakte gesien; die stamme van die
bome is hoog kaal. Op daardie vlakte lê 'n springbok dood; en my
skoonbroer en my suster is 'n ent daarvandaan."
Toe roep algar tegelyk: "Goeie tyding, goeie tyding! Kom laat ons op
die daad gaan."
Hulle sprei hulle vlerke oop en trek op 'n tou daarheen. Gou het hul
die springbok kafgeloop.
Die jongste suster sê: "Ons moet 'n dik en lekker stuk vleis vir ons
getroude suster laat staan. Sy het mos nie rusie met ons gemaak nie,
maar wel haar man. Waarom moet ons haar ook straf?"
En die ouer suster roep uit: "Ja, daar sien ek haar aankom. Ja,
dis regtig sy daardie!"
Maar die ander berg-aasvoëls was te uitgeëet en laat toe niks agterbly
nie as net die afgestrookte geraamte.
Toe die man en sy vrou terugkom, vind hul net die geraamte van die
springbok daar. Hulle voel neerslagtig, maar gaan dadelik weer ander
wild soek.
Die ander dag het net dieselfde ding oor gebeur. Die ander aasvoëls
het weer alles opgeëet en net die blote bene laat agterbly.
Die man en vrou het toe ver weggevlie--buite die bereik van hulle
maters; en hulle woon nou saam met aasvoëls wat gesamentlik kos soek.