No. Bladsy.
'n Paar Woorde vooraf 1
26. Kraai se vernedering 3
27. Die Aasvoëls 15
28. Erdvark, Vlakvark, Kwagga en Bosvark 25
29. Hasie, Tingtinkie en Uil 31
30. Die Boesman en Leeu ontmoet in 'n Spelonk 39
31. Slang en Skilpad is broers 47
32. Leeu, Wolf en Jakkals 53
33. Die Bobbejane en Ape 61
34. Die Sonbesies en Kriekies 69
35. Leeu en Wolf eet oor en weer 79
36. Volstruis word weer lewendig 85
37. Leeu word jaloers 95
38. Perdeby en sy Vrou 101
39. Moeder Leeu en die Kinders 107
40. Boesman-Gedigte 115
41. Leeu binne die Hut by die Kind 121
42. Wolf en sy twee Vroue 127
43. Tier is ontevrede met die Son 137
44. Ystervark en Vlermuis 145
45. Twee in een Skot 153
46. Die Hamerkopvoël en die Swaweltjies 159
47. Die Wolke 167
48. Mierkatte en Erdmannetjies 175
49. Die Boom wat al maande sterf en weer lewendig word 183
50. "Die Dieredans" deur Boesmans uitgevoer 191
'N PAAR WOORDE VOORAF.
Tans oorhandig ons Deel II van Boesman-Stories aan die geëerde publiek,
met die hoop dat dit 'n vriendelike ontvangs mag geniet.
Om die volksvertelling van Boesmans te geniet, moet die toehoorder of
leser volkome met die karakter van dié nasie bekend wees. Ons het in
die twee Deeltjies wat nou in hande van die publiek is, en met die twee
wat hul spoedig sal opvolg, nie alleen getrag om die blote stories te
vertel nie, maar het ook terselfdertyd gestreef om die volkskarakter
te weerspieël. Dus, ná ons al vier deeltjies Boesman-Stories deurgelees
het, sal ons hierdie besondere volksvertellings na waarde weet te skat.
Ons het êrens reeds daarop gewys dat daar wel deeglik verskil bestaan
tussen die maniere waarop Hottentots en Boesmans hulle stories
vertel. Die Hottentot is 'n pretmaker (humoris) en verstaan die kuns
om eienaardighede van diere op grappige wyse te verklaar. Hy tree op
as spottekenaar (karikaturis) en lewer ons spotprente (karikature)
van 'n taamlik goeie gehalte.
Die Boesman, daarenteen, is weer 'n kunstenaar (arties), en wel na eie
kultuur--hoe laag dit ook al mag wees. Hy is selfs musikant en digter
wat die natuurklanke getrou kan naboots. Waarlik, hy is 'n kind van
die natuur; en sy taal is 'n gawe van God alleen aan hom geskenk,
sodat hy hier nie nodig het om van ander te leen nie. Hy graveer
of skilder voorwerpe soos hy dié in die natuur aantref--sonder om
pogings aan te wend om daarop te verbeter.
Daarom, as ons sy stories deurlees, dan vind ons hierdie karaktertrek
as 'n polsslag wat al sy verhale deur kan gevoel word. Hiermee wil
ons nie te kenne gee dat hy enigsins van oordrywing vry te pleit
is nie. Nee, sy diere kan ook praat, nes dié van die Hottentot--ja,
hulle kan selfs meer doen: hulle kan hulle gedaantes verander. Maar as
ons bedink wat die godsdienstige begrippe van Boesmans is, nl. dat die
ou geslag hul maklik van Boesman tot dier en van dier tot Boesman kon
verander, dan moet ons sulke onnatuurlike of bo-natuurlike verskynsels
as volkome natuurlik vir 'n Boesman beskou. Met dit voor hom is hy
aan die skep van stories gegaan. Sonder om in die spinnerakke van
gissing verwar te raak, wil ons amper beweer dat die meeste van sy
vertellings onsigbaar aan werklike gebeurtenisse geknoop is--in ieder
geval, dis verdigsels van werklikhede.
Want met deurlees sal selfs die gewone leser bespeur dat die diere
hulle rolle nes op die alledaagse toneel speel: Leeu is die gesaghebber
en baie sterk; Tier volg hom in rang op; Wolf is onbeskaamd en
'n indringer; en Jakkals is 'n bangbroek, en daarom meestal 'n
bedelaar. In die vertellings van Boesmans kom dus, ooreenkomstig
hulle begrippe, haas geen oordrywing voor nie. So is Boesman-stories
ook maar blote karaktertekeninge, of karaktersketse.
In die bespreking van sulke stories loop die opienies van beoordelaars
baie uiteen: die een verklaar dié as blote kinderkamer-sprokies,
die ander weer as bloot wetenskaplike werk; die woorde "soos deur
Hottentots vertel" of "soos deur Boesmans vertel" is peper in
hulle oë, en hulle verklaar om hierdie rede dat sulke stories vir
kinderkonsumpsie (kindergebruik) glad ongeskik is--asof ons vaders en
moeders ons terug moes geroep het toe ons outas saans so aantreklik
die stories vertel het, en ons ouers self in plaas van die Hottentots
en Boesmans vir ons dié stories moes vertel het. En wat het ons dan
gekry? Want wie kan 'n dierstorie so aanskoulik as Hottentots en
Boesmans vertel?
Die materiaal wat ons versamel het, is ru, dog natuurlik. Saag
en skaaf ons te veel daarvan, dan verloor dit sy eienaardige
karakter. Lewer ons dit net so in onbewerkte toestand, dan is die
enigste aangewese plek daarvoor die boekrak van die ondersoeker van
menskunde en volksvertellings. Wat ons egter na gestreef het, is om
tussen al die rotse veilig deur te seil, nl. wetenskap aan die een
kant, blote vermaak aan die ander kant, en egte volkskarakter vlak
voor ons. Hierdie drie eise het oor ons skouer op ons pen gekyk of
ons wel getrou aan ons strewe gebly het. En dis vir die publiek om
te oordeel in hoeverre of hoe na ons die skyf mis- of raakgeskiet
het. Dit, egter, is ons versekering: ons het ons bes gedoen. As die
lesers ons poging in hierdie lig wil bekyk, dan is ons meer as beloon
vir al ons werk van toewyding.
Die Skrywer.
Kafferstat, Hendrina, Tvl.,
Junie 1919.
NASKRIF: Toe ek hierdie Deel, op 'n paar Stories na, klaar geskrywe
het, is dr. W. H. I. Bleek se Specimens of Bushmen Folklore my
in hande geval. Dié boek het onvoltooid ná sy dood verskyn; en
sy skoonsuster, mej. Lucy C. Lloyd, het met baie moeite die werk
gepubliseer gekry. Dr. Geo. McCall Theal het daarvoor 'n seer
belangwekkende inleiding geskrywe.
Dog dr. Bleek het sy werk glad met 'n ander doel geskrywe. Hy het
die verskillende tale van die inboorlinge van Suid-Afrika bestudeer;
maar toe daar 'n gunstige geleentheid hom aanbied om sy aandag aan die
Boesman-spraak te wy, het hy gedoen meer as baie ander sou gedoen het,
om sy werk--A Comparative Grammar of South African Languages, waaraan
sy hoë reputasie verbind is--terug te sit om eers die Boesman-taal te
leer en dan sy kennis daaromtrent aan andere mee te deel. Vir diegene
wat die taal van die Boesmans wil leer, sal dr. Bleek se boek baie
te pas kom.
Met deurblaai en lees van die Bushmen Folklore is ek getref deur
die groot ooreenkoms van die stories deur hom en my aangegee. Want
hoe is dit moontlik dat 'n wilde menseras hulle volksvertellings so
wyd versprei het en dit so goed bewaar het? Maar by nader ondersoek
blyk dit dat dr. Bleek en ek ons materiaal omtrent dieselfde tyd op
dieselfde oppervlakte versamel het--net hy het 'n paar Boesmans uit
die binnelande naby Middel-Afrika, en ek het een van die Transvaalse
Boesmans gehad; en dit het die ooreenkoms bewerkstellig.--Die Skrywer.