UIT DIE BEK VAN 'N KROKODIL ONTSNAP.

OPMERKINGS:--Dit was in die jaar 1883, ná ons Pietretief as dorp

uitgelê het en op terugreis na Pretoria was, dat die besonderhede

van hierdie verhaal aan ons op die Hoëveld een aand deur 'n

Boesman meegedeel is.

'n Boesman besit 'n sekere mate van trots in hom en voel glad nie

lekker as iemand gedurig van sy kleinheid van persoon gewag maak

nie. Hy voel erg trots as hy iemand iets kan wys waarmee die persoon

onbekend is. Dit het ons een aand in besonder opgemerk.

Ons het skemeraand op die ope Hoëveld uitgespan. Dit was op 'n publieke

uitspanning naby 'n spruit water. Ofskoon dit in die somermaande was,

was dit daardie aand koud, soos dit soms op die Hoëveld kan koud

word. Solank die osse nog wei, was my Kafferdrywer besig misbolle

op te tel om vuur te maak. Onderwyl maak 'n Boesman sy verskyning;

en toe die Kaffer hom op korswelwyse vra waar hy vandaan kom, en of

hy daar somar uit die grond gekruip het, was hy enigsins beledigd en

wou nie verder met die Kaffer praat nie; maar toe dié aan die Boesman

'n pruimpie tabak gee, verander die Boesman dadelik van houding--want

nou neem my Kaffer mos notiesie van hom. Ons het geen wa-leier gehad

nie; dus beloof ons hom 'n vergoeding as hy wil help om vuurmaakgoed

te versamel en een en ander te doen.

Ná die osse aan die juk vasgemaak was, begin die Kaffer vuur te maak;

want daar was nou 'n oorvloed van brandstof. Ons persoonlik klim uit

die wa om langs die vuur te gaan sit.

Die Boesman het die vuur so gestaan en bekyk en het eers niks daaroor

gesê nie. Maar later merk hy op: "Baas, ek kan somar sien julle

witmense, en hier my maat, verstaan nog nie om met misbolle vuur te

maak nie; laat ek vir julle wys."

Hy pak toe die misbolle om die vuur nes 'n skoorsteen van agtien duim

hoog. Spoedig slaan in daardie skoorsteen 'n vlam op asof dit 'n vuur

is wat met hout gemaak is. Dit was natuurlik 'n lekker warm vuur. Ons

vergeet nooit hoe trots hy gevoel het dat hy dit só reggekry het nie,

want hy voeg nog daarby: "Baas verstaan net om droster-vuurtjies

te maak."

Ons het die les vir altyd onthou. Ons bemerk dat hy aan een been,

onderkant die knie, 'n gebrek het, en vra hom wat die oorsaak daarvan

was. Hy wys die plek aan ons en vertel sy verhaal soos volg:--

"Ek was eenmaal saam met my oubaas na die skietveld toe. My werk

was om na die osse te kyk. Daar in die spruit waar ons staanplek

was, was groot seekoegate: maar ons het nie eintlik krokodille daar

gewaar nie. Dus was ons min of meer gerus--in ieder geval, ek was

perdgerus. Maar ek dink dat die bloed van die wild wat my oubaas-hulle

geskiet het, en die bloed-besmeerde goed wat gedurig in die spruit

gewas is, die krokodil aangelok het.

"Ek en my kleinbaas stap eendag deur vlak water (bokant 'n seekoegat)

deur die spruit. Net soos ons halfpad was, het 'n krokodil my aan my

been; hy vang my onderkant my knie en sleep my die seekoegat in. Met

die sleep kom my hand teen die horings van 'n wilde bok waaraan die

krokodil net besig was om te eet. Hy trek my toe in 'n gat onder die

water in. Die gat gaan skuins in die wal op. Die krokodil los my toe

daar en gaan weer aan sy bok vreet. Ek hou my of ek morsdood is.

"Nou, baas sal sien, as 'n witman en 'n Boesman deur water stap, dan

sal die krokodil nooit die witman pak nie, maar wel die Boesman. Net so

met 'n leeu: As 'n Boesman tussen witmense slaap, sal hy die witmense

verbygaan en die Boesman pak en wegdra.

"Wel, in hierdie geval was my kleinbasie nader aan die krokodil,

en tog kom hy my aan die ander kant van die kleinbaas vang. Kan baas

vir my sê waarom ons arme Boesmans sulke ongelukkige skepsels is?"

Ons versoek hom om voort te gaan en te vertel hoe hy van die krokodil

verlos geraak het.

Hy vervolg: "Die krokodil het gedink ek was dood; want ek het my

morsdood aangestel toe hy my in die gat onder die wal insleep. Elke

maal kom hy loer of ek nog stil lê. Ek voel toe so benoud. Ek verwag

dat hy enige tyd sal kom om aan my te vreet, want ek weet mos nie

hoeveel kos hy daar het nie, en ook hoeveel hulle is nie.

"Toe my oë aan die donker gewend raak en ek reg kom (want ek was half

versmoor onder die water), toe kyk ek orals rond en sien 'n ligstraal

bo deur 'n skeur skyn. Ek kruip saggies hoër en sien dis net 'n groot

skeur. My wonde waar die krokodil my gebyt het, bloei--want ek kan

die warm bloed voel tap.

"Net toe ek klaarmaak om bo-uit te vlug, kom die krokodil weer loer

en gee my net 'n seer byt aan die been--glo om te kyk of ek regtig

dood is. Ek lê so stil en haal saggies asem, Hy draai terug en gaan

weer vreet.

"Toe neem ek my kans waar. Ek beur deur die nou skeur. Ek hou my

smal en dun. En bo-uit is ek! en hol vinnig weg. Maar hier borrel

die krokodil ook uit en hol 'n ent agterna; dog ek hardloop met my

seer been skoon van sy lyf weg."

Boesman-Stories, Deel 4. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard · 第 57 / 58 题