OPMERKINGS:--Hierdie gebeurtenis is in 1870 in Boesmanland,
naby Krommaag, afgespeel. Ons was net daar toe dit voorgeval het.
Dit is ons deur verskeie Boesmans wat eers wild was en later mak geword
het, verseker dat dit 'n moeilike ding vir 'n wilde Boesman is om te
verstaan waarom die witmense en basters mag vee aanhou en sê dat dit
hulle eie is, terwyl hul aan die ander kant hulle eie reg gebruik om
die Boesman se vee (die wild) te kom doodskiet of verjaag, waardeur
die Boesmans moet honger ly. Later, as hul mak word, verstaan hul die
saak beter; en dit word hul duidelik gemaak dat die witmense en basters
met vee boer, dit oppas en versorg, terwyl die wild vir hulleself moet
sorg. Maar tog, uit die oogpunt van 'n wilde Boesman gesien, lyk dit
glad nie reg nie. Hulle meen dat die witman maar in sy eie land moes
gebly het om daar met sy vee te boer, en nie hiernatoe moes gekom
het om die Boesmans se vee, gronde en waters af te neem nie. Dus, uit
weerwraak vat hul soveel van die vee van die blanke en basters as hulle
in hande kan kry; wat hul nie vir onmiddellike gebruik nodig het nie,
verniel hul op 'n gruwelike wyse, om môre maar weer ander te vat en
dié op dieselfde wyse te behandel. En tog aan die ander kant verseker
Boesmans ons dat in hulle wilde staat diefstal swaar gestraf word. As
uitgevind word dat iemand gesteel het, en die bestole persoon kom kla,
dan, as dit die man se vrou of kind is, oorhandig hy hulle aan die
klaer om hulle te straf--al was dit soms met die dood. Die man wat
gesteel het, word net so behandel; maar natuurlik moet die kwaad eers
deeglik bewys word. Bewyse en getuie moet daarvoor beskikbaar wees.
Nou, wat reg of verkeerd is, is maar 'n opienie. Skurkery waarvoor
geen wet bestaan nie, is geen misdaad nie. Die pous van Rome mag nie
trou nie, maar hy mag wyn drink; die sultan van Turkye mag wel trou,
maar mag nie wyn drink nie. In Rusland onder die saar se wet mag geen
moordenaar opgehang word nie; maar 'n skurk word voor die voorkop
gebrandmerk, of sy neus word afgesny, of sy oor verwyder. Dit is ons
menslike begrip van reg. En hoe omtrent die Boesman se opvatting? En
daarby kom nog: Hy is so kort van verstand. Hy verdedig sy grondgebied
deur middels waaroor hy beskik. Maar dis darem baie onplesierige en
wrede middels! Straf word alleen toegepas op die dommes wat so sleg
is om uitgevinde te word: die slim skelms kom altyd vry.
Die Boesman, aan die ander kant, as die instellings van die blanke
vir hom duidelik geword het, is gewillig by die witman en baster te
werk. Daar is oor en oor genoeg bewyse dat as hy weet dat sy baas
hom regtig vertrou, hy sy baas ook getrou dien. Daar is ewe soveel
bewyse dat hy vir bewese weldade dankbaar en erkentlik is. Hy doen
dit nie juis in dieselfde sin as 'n getroue hond nie, maar sal selfs
uit sy pad vir sy baas gaan om hom 'n vrindskap te bewys of voordeel
te laat bekom. Hy moet daartoe op 'n boerplaas opgevoed word. Die
dorp is sy sedelike verderf: daar kry hy drank, en hy ken geen maat
nie; daar kom hy in aanraking met lae karakters, en hy self is nie
standvastig nie. Op sendingstasies was hy 'n mislukking, omdat hy vir
hoër begrippe onvatbaar is. Dit het vir die beskaafde nasies van die
wêreld eeue geneem om beskaaf te word; hoe kan 'n skepsel so laag as
'n Boesman in 'n paar jaar beskaaf word?
Nou gaan ons weer 'n verhaal meedeel om die roekelose handelwyse van
wilde Boesmans bloot te stel--dade waartoe hy hom volkome geregtig
vind.
In 1870 het 'n klompie basters met hulle talryke vee saam op 'n plek
in die nabyheid van Hartbeesrivier in Boesmanland gaan staan. Die
veld was pragtig, en water was volop; dus was die vee vet, en die
mense was vrolik. Op 'n sekere dag kom die veewagters vertel dat drie
wilde Boesmans met 'n klompie osse voort is. Dadelik word die perde
gehaal, opgesaal, en 'n klein gewapende mag volg die spore. Hulle
druk op so vinnig as hul kan; want die Boesmans was ver voor. In
sulke gevalle jaag die Boesmans die gestole vee so hard as hul kan
gaan, sodat hulle tyd wen om te slag en te braai. Want hulle weet
dat die eienaar tesame met andere hulle tog sal agtervolg. 'n Paar
beeste het op pad flou geword. In plaas van hul agter te laat staan,
skiet hul hulle met gifpyle dood om te dien as voedsel vir aasvoëls,
leeus, wolwe en jakkalse; maar die baas wat die beeste opgepas en
versorg het, aan dié gun hul dit nie. Hulle slaan en gooi die beeste
wat nog kan loop, om hul op 'n stywe draf te hou.
Kort ná die middag het die basters die Boesmans met die geroofde
beeste ingeja. Die vee staan toe op die oop vlakte. Maar waar is die
Boesmans? En is hul nog drie? Pas op nou om 'n bees te gaan keer:
jy of die dier kry die gifpyl. Op die gelyk vlakte kan 'n Boesman
hom net so gevaarlik wegsteek as in die skurfste randjie. Hulle is
fyn en geslepe om nie die geringste aanduiding te gee van waar hulle
skuilplek is nie. Maar die basters, net soos die blanke van daardie
streek, weet hoe om Boesmans te jag en uit te snuffel. Dit het ook
nie te lank geduur nie, of die basters weet presies waar die drie
gate in die grond gegrawe is. Uit die middelste gat sien hul af en
toe die loop van 'n geweer uitsteek.
By dié geleenthede roep die twee symaats uit: "Wag, moenie skiet nie;
laat hul maar eers nader kom, dan kan ons hul ook met die gifpyle
werk!"
Vir die gifpyle was die basters toe nie so bang as vir daardie roer
nie; want die roer kan verder tref as wat 'n pyl kan skiet.
Hierdie krygslis van die Boesmans het die basters vir 'n lang ruk
van aanval teruggehou. Dog toe die Boesmans so lank versuim, weet
die basters dat dit met die roer somar blinde alarm is. Hulle keer
toe versigtig die beeste tussen hulle en die Boesmans in en het
hulle kans geneem om tussen die klomp beeste deur op die drie gate
te skiet. Hulle het uitgeroep om oor te gee; maar die Boesman wou
tot die dood toe veg. En so het al drie in hulle stryd geval.
Die lewendige vee het die basters teruggekeer ná hul die drie Boesmans
in erdvarkgate begrawe het. Dog, oor wat hul gedoen het, het hul
glad nie gerus gevoel nie. Hulle het toe vir 'n ruk oor Grootrivier
gevlug; maar toe hulle vroue vir hulle laat weet dat alles veilig is,
het hulle teruggekom: die Boesmans het tog die eerste op hulle geskiet.