VEG BOESMANS OOK ONDER MEKAAR?

OPMEKINGS:--Ons maak hier kennis met 'n heel interessante ou

skepsel, outa Bles, wat tussen tagtig en neentig jaar oud was.

Dit was in die jaar 1882, toe sit ons een aand ná sononder op ons

stoep op Calvinia. Onderwyl stap daar 'n ou Boesman voor die deur

verby. Sy sonderlinge postuur en houding tref ons, en ons slaan

noukeurig ag op hom. Hy merk dit, groet, en hy stap nader en vra 'n

pruimpie tabak. By dié geleentheid vind ons uit dat hy ons baie van

die Boesmans kan vertel. Hy was daar op kuier by vrinde. Ons het hom

nie alleen tabak, maar ook 'n stuk kos gegee en hom versoek om ons

te vertel van die ou dae. Hy vra toe 'n slaapplek in die agterplaas;

dus het ons genoeg geleentheid gehad om met outa Bles te gesels.

Op vrae wat ons af en aan gestel het, vertel hy ongeveer sy storie

as volg:--

"Toe die Engelse in hierdie land gekom het, was ek só groot (hy wys

met sy hand, sodat hy toe omtrent tien jaar moes gewees het). Boesmans

wat uit Kaapstad weggeloop het, het die tyding van die Engelse skepe

gebring. Ons het toe van sulke dinge maar min verstaan. Ek is in die

Roggeveldberge gebore; maar toe die weggelope Boesmans by ons gekom

het, was ons in die Cederberge en dan weer in Ceres se wêreld. Daar

was toe nog baie wild in daardie berge, wat ons in staat gestel het om

die bokke van naby te bekruip. Met die ronddwaal daar het ek al begin

groterig word en weet nou nog goed wat in daardie dae plaasgevind

het. As ek daaroor dink, dan is dit vir my as die dag van gister.

"In daardie dae het dit in ons berge mooi gereën; maar in die Karoo

was dit nog baie droog. Al die wild trek toe na ons bergveld-toe, en

toe kom die Boesmans van die Moordenaars-Karoo en van die Groot-Karoo

na ons berge toe. En hoe dit gekom het, het ek nooit verstaan nie;

maar tog, daar het skoor ontstaan tussen ons Berg-Boesmans en die

Karoo-Boesmans. En hulle praat somar van mekaar te skiet.

"Maar, my basie, ons Boesmans kan mos nie met mekaar oorlog maak soos

ek nou verstaan hoe die mense en Kaffers oorlog maak en met mekaar

veg nie. Kyk, as 'n Boesman daar agter 'n klip of in 'n gat lê,

watter ander Boesman sal dit waag om hom daar te gaan bekruip? Nee,

ons sal mekaar gaan betrek daar waar vleis gebraai en gedans word,

of waar in die donker om die vuur gesit word. Maar dan weer, wie sal

so dom wees om in sulke gevaarlike tye in die ope lug te gaan vuur

maak of te gaan dans, sodat hul die tamboer en musiek van ver kan

hoor? Nee, my basie, al ons Boesmans weet goed dat ons onder mekaar

nie kan veg nie. Het iemand vir jou kwaad gemaak, dan is dit alleen

die saak tussen jou en tussen hom; en die ander het daar glad niks

mee te doen nie. Julle twee moet maar self julle eie sake regmaak. Wat

help dit as ander vir hulle daaroor sal laat doodskiet?

"Maar die ding word glad anders as baie kom om ons Boesmans in 'n hoop

aan te pak; dan staan ons gelyk, en nou veg ons teen 'n gemeenskaplike

vyand wat nie ons eie nasie is nie. Ons veg dan òf teen die witman òf

teen die Hottentot òf teen die Kaffer. Met hulle kan ons beter veg,

want hulle kom na ons toe; al wat ons moet doen, is om vir baie pyle

te sôre en doodstil in ons wegkruipplek te lê. Daar sal hulle gewere

en asgaaie ons nie uitkry nie; maar net honger en dors sal vir ons

daar uit die wegkruipplek uitdrywe. Want ons Boesmans dra mos nie so

baie kos en water met ons saam nie. Nee, my basie, die witmense en

die Hottentots en die Kaffers sê dat hulle vir ons uitgeroei het. Nee,

nou jok hul mos; want dis die honger en die dors as hul ons vaskeer,

wat vir ons gedaan gemaak het. Nou, sê vir my, my basie, is honger en

dors dan mense? En wie kan met hulle baklei of speel? Hulle is man

en vrou; hulle is ons algar se baas en nôi; hulle slaan seer houe

as hul slaan. Hulle order aldag vir ons rond. En al die mense werk

verniet vir daardie baas en nôi. Hulle vra nie vir jou of jy siek

of gesond is nie. Honger en dors ja vir jou gou uit die siekbed;

hulle ja vir jou uit as dit reën, hulle ja vir jou uit as dit koud

of warm is. Ja, my basie, hulle ja vir jou uit dwarsdeur jou vyande

wanneer hul met koeëls op jou skiet en wanneer hul met asgaaie vir

jou steek. Verstaan my basie nou dat dit net honger en dors is wat

ons Boesmans so uitroei? Die honger en dors is die honde wat vir

geweer en asgaai die Boesman uit sy skuiling moet uitja.

"Maar die saak met Boesman teen Boesman is glad anders: As die een

'n stuk wild geskiet het, dan deel hy dit mee aan dié wat niks geskiet

het nie. Môre skiet daardie een weer iets, dan deel hy weer aan dié wat

vir hom kos gegee het; en so help ons mekaar. Ons is nie afgunstig nie;

net my pyle en boog, my vrou en kinders, my velle en potte is myne;

maar die ding waaroor hul oorlog maak, soos grond, water, vee, en

sulke goed, is ons algar s'n same: waaroor moet ons Boesmans daaroor

baklei? En vat hy aan my goed, dan, het ek mos vir baas gesê, is dit

'n saak tussen my en hom, waarmee die ander niks te doen het nie.

"Kyk, my baas, nou sal ek vir jou die poedelnakende waarheid

vertel. Ons het nie kapteins om vir ons te roep om oorlog te kom

maak nie; en as niemand ons roep nie, wie sal dan gaan? Basie, die

kapteins, dis hulle dié wat al die kwaad stook; en ander wat die

rusie nie gemaak het nie, dié moet oorlog maak."

Boesman-Stories, Deel 4. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard · 第 26 / 58 题