Ek meen dit was in die jaar 1860, en ek was toe al veertien jaar
oud. My pa en oom Theuns het gaan jag noord van die Grootrivier, en
ek moes gelukkig meegaan--waaroor ek baie bly was. Daardie skiettog
het op my so 'n indruk gemaak dat ek dit nooit in die dag van my lewe
sal vergeet nie. Daarom vertel ek nou alles net soos ek dit gesien
en ondervind het.
Ons woon toe in daardie dae tussen Buffelsrivier en Port-Nolloth. Die
enigste plek waar ons die Grootrivier kan deur, is omtrent anderhalfuur
van die mond af: daar loop hy mooi gelyk, met lae walle en 1,800 tree
breed. Van Port-Nolloth af is daar vreeslik dik sand en duine. Dit neem
tien flukse skofte om die rivier te bereik. Ons was met twee waens, elk
met agtien knewels van osse bespan en voor ieder 'n Boesman as leier.
Dis gekheid om so 'n jag sonder Boesmans te onderneem. Ek wil amper
beweer dat jy eerder jou roer tuis kan laat as sonder 'n Boesman
daar oorkant te gaan skiet. Die Boesmans ken daardie wêreld op die
punte van hulle vingers; en dan het hulle meer planne en uitvindsels
as 'n mens hom ooit kan verbeel. Hulle kan baie ver en goed sien;
dan, hulle ruik is goed, en verder kan hul baie fyn hoor. Beter
as 'n patrys kan hul wegkruip en hulle versteek. Ook kan hul baie
vinnig en op die aanhou hardloop, en daarby kan hul lank sonder kos
en water bly. Ja, hulle weet vooraf waar daar êrens wild moet wees,
en kan dit keer net soos hulle dit wil hê. Een ding moet 'n mens voor
oppas, en dis dit: Voor jy jou Boesman uitstuur om wild te gaan soek,
moet hy nie te veel te eet en te drink kry nie; want dan word hy lui,
kry somar vaak en gaan vir 'n halfdag lê en slaap. Die beste plan is
om hul oordags min kos en water te gee, maar voer hul saans goed: dan
bly hul fluks en lewendig. Pas jy nie self dié maatreël toe nie, hulle
ken geen maat in enige ding nie. Hoe meer jy gee, hoe meer wil hul hê;
en verder mors hul alles op. Waarlik, 'n Boesman sal nie vir die dag
van môre sorg nie; in hierdie respek is hul nes diere of kinders.
Ons het op ons waens gehad: twee grawe, twee byle, twee emmers,
twee vate water; verder volop broodkos, sout, en 'n groot pot. Daar
oorkant is 'n woeste sandwêreld--net soos in die suidekant van
Grootrivier. Langs die rivier op is daar bome, laagtes, en ook hier
en daar klein bergies. Dit is eintlik die regte jagwêreld. Daar
is gensbokke, volstruise, springbokke, koedoes en duikers, en so
meer. Saans huil oom Wolf oor kos, en neef Jakkals probeer om lammers
ná te blêr; maar regkry is net verniet--al het sy nasie al vir honderde
jare geleer. Maar met dit alles het die twee baie planne om wild
vas te keer. Hulle het dit net volop; maar die mooiste is om hulle
kleinspan aan die kos te sien ruk en pluk. Dit geskied natuurlik nie
sonder rusiemaak en baklei nie. Dan lê die oom en neef ewe hoogmoedig
aan te kyk hoe hulle na-kroos hulle tande vir 'n ou dag oefen.
Ná 'n paar flukse skofte moes ons laer in 'n laagte trek; want daar
in die rondte was baie wild, en die wêreld daar was baie geskik om
te jag. Dit het die twee Boesman-leiers ons vooraf vertel.
In die jagveld is 'n mens heeltemal afhanklik van die Boesmans. As jy
hulle taal nie kan praat nie, is jy heeltemal verlore. Gelukkig ken
almal van ons wat op jag was, die Boesmantaal; want ons het dit as
kinders by die kindermeide geleer. Baiekeer was ons in die jagveld
alleen, onderwyl ons Boesmans weg was om wild te gaan opspoor; dan
kom die wilde Boesmans op ons af om water of iets anders te vra. Ons
kan dan goed met mekaar gesels, en ons vind dan baie dinge by hulle
uit. Die nasie het vertroue in jou as jy hulle taal kan praat; anders
is hul agterdogtig en sku vir dié wat hulle taal nie ken nie, en nog
daarby skelm en vol draadwerk. Glo my vry, 'n Boesman is baie skelm;
maar dat hul onnosel is, moenie glo nie! As jy maar sien en let op
die slim planne wat hulle maak om wild in die hande te kry, sal jou
verstand stil staan.
Soos ons algar weet, is alle diere baie oplettend. As jy net 'n
paar klippe op mekaar sit, of boomstompe oorkruis plaas, of bossies
op die kop regop laat staan, dan sal die wild dit dadelik merk--al
was hul nooit vroeër op die plek nie; en hulle gee altyd vir sulke
plekke pad. Dit en nog meer weet die Boesmans te goed en weet daarvan
gebruik te maak om hulle stukkie kos in hande te kry. Hulle beste
wegkruipplek met hulle pyle en boog is die ope vlakte. Hulle grawe
'n holte diep genoeg om in te lê en wag daarin die wild af. Orals pak
hul klippe of stawel bossies op mekaar om die wild in die rigting te
drywe soos hulle dit wil hê; daarom is daar gewoonlik twee rye van
hierdie soort verskrikkers wyd van mekaar om die wild tussendeur te
laat kom. Dié wat die wild aankeer, loop ver om en kom langsaam nader
om die wild nie te verskrik of te laat weghol nie. Dan kom die bokke
stadig wei-wei aan. Die bossies en klippe is dan die oorsaak dat hul
reg op die skutters afkom. Die skutters wag hulle kans mooi af om al
hulle maats 'n kans te gee. Meteens word geskiet; en dit gebeur dat
'n man op een plek tot vier bokke doodskiet.
Dis nie die enigste plan van jag nie. Hulle vermom hul deur die vel van
'n bok om hulle lyf te trek, en dan stap hul op hande en voete. Of soms
bind hul bosse om hulle lyf vas en kruip dan stadig nader. Soms is die
bosse om hulle liggaam in so 'n vorm gebind dat die Boesman self na
'n groot bos lyk. 'n Ander plan is om die vel of vere van 'n volstruis
te gebruik en om dié om hulle lyf te bind, sodat die Boesman taamlik na
'n volstruis lyk. Daar is nog baie meer fyn planne wat hulle beraam om
wild in hande te kry; maar dit sal te lank neem om algar te vertel. En
tog verseker die Boesman ons dat dit baie moeilik gaan, met al die
slim planne, om wild in die hande te kry; want die wild word minder,
daar hul deur die jagters--wit en swart--doodgeskiet of verjaag word.
(Hierdie verhaal word vervolg onder No. 80.)