OPMEKINGS:--Die besonderhede van hierdie verhaal is ook deur
mnr. E. de Roubaix aan ons meegedeel.
Jare gelede het in Groot-Namakwaland, noord van Grootrivier, 'n
Engelsman gewoon met die naam van Donkin. Hy het daar vee ingekoop
en dit in die Boland gaan verkoop.
Hy kon die Hottentot- en Boesmantale baie goed praat, wat in daardie
streke van groot waarde is. Ook het hy twee Boesmantjies gevang en
groot gemaak. Hy gee hul toe die name van Karools en Bantjies. Hy het
altyd met hulle in die Boesmantaal gepraat, dog die twee het later
in gebroke Afrikaans ook 'n gesprek kon voer.
Eenslag kom hy weer met 'n klomp osse deur Grootrivier om dié in
die Boland te gaan verkoop. Sy twee Boesmantjies was toe al groot,
en hulle moes die osse aanja. Mnr. Donkin ry gewoonlik vooruit,
en die twee kom met die osse agterna.
Vroeg een oggend kom mnr. Donkin op Troe-Troe (nou Vanrhynsdorp)
en wag daar vir sy osse. Maar al wat uitkom, is die osse. Wat het
intussen gebeur?
Die twee Boesmans het die oggend met die osse by 'n koringland
verbygekom. Die osse, wat hongerig was, storm die land in en eet ewe
gulsig. Dit was vir Karools en Bantjies te mooi om te sien hoe graag
die osse daardie soort gras wat hulle nie ken nie, eet. Hulle laat
die osse maar hulle gang gaan en goed dik vreet.
Die gesaaide het aan oom Piet ---- behoor, en die ou oom was maar
'n bietjie kwaai. Hy was in die gewoonte om smôrens sy landerye om te
ry om te kyk of alles nog in orde is--en daar kom hy op die gedoente
af dat die osse sy gesaaide afmaai, onderwyl twee Boesmans dit alles
met die grootste kalmte aanskou.
Hy brul van woede en skree vir die Boesmans: "Julle satansgoed! Wat
maak jul hier? Ja op die daad die beeste uit, of ek sal julle wys!"
Die Boesmans maak of hul hom nie verstaan nie en praat die Boesmantaal
dat dit so klap. So vinnig as die oubaas die osse uitja, so vinnig
keer die Boesmans voor en dryf die osse land-in.
Dit is genoeg om die beste mens dinge te laat doen wat hy anders
nie sou gedoen het nie. Die Boesmans was te rats--hy kon hul met
die perd nie bykom nie; dus ja hy in woede terug na Troe-Troe toe
en kom daar uitasem en rooi in die gesig aan. Hy stap driftig sy
huis in, gryp sy rewolwer, spring weer in die saai en ja terug in
die rigting waarvandaan hy gekom het. Sy vrou merk onraad en snel na
die vrederegter toe en versoek hom agterna te gaan. Hy was 'n bietjie
versigtig en neem twee ander mans te perd met hom mee.
Met hierdie gedoente kom mnr. Donkin eers agter dat daar onraad is,
en hy ja ook te perd agterna. Toe hy daar aankom, was die osse al uit
die land; maar Karools en Bantjies was skoonveld weg en nêrens te
vinde nie. Die mans neem die osse na Troe-Troe toe, en mnr. Donkin
bly radeloos agter. Ná die mense weg was, kruip die twee Boesmans
digteby die land uit 'n slootjie; want hulle het vir die ander mans
bang geword. Hulle baas neem hul toe mee.
Die volgende dag het die saak voor die hof gedien. Niemand kon
die Boesmans verstaan nie; dus is hulle eie baas as tolk ingesweer
geword. Daar hy nie so 'n dom man was nie, is hy met 'n ligte boete
daarvan afgekom. Hy trakteer toe vir Karools en Bantjies met 'n
halfemmertjie lekkers en 'n halfbottel brandewyn--wat hul natuurlik
toe net lekker en vrolik maak.
Die volgende dag was die drinkplekkie ingebreek, en brandewyn het
makeer... en ook Karools en Bantjies het makeer. Mnr. Donkin en 'n
gekleurde konstabel het hul agternagesit; wyd oor die Knegsvlakte
het hul gesoek. Dit was verniet; want iemand te perd sou hul nie kon
gevang het nie.