No. Bladsy.
'n Paar Woorde vooraf i-iii
76. 'n Onverwagte ontmoeting 1
77. Onwetend sondig, en wat daarop volg 9
78. As 'n Boesman weer wild word 15
79. Op 'n Skiettog, en wat daar te sien was 23
80. Nog meer oor die Skiettog 31
81. 'n Kommando teen Boesmans 37
82. Hoe daardie Veldtog geëindig het 43
83. Die Wraak van 'n Boesman 51
84. Boesmans by Chrissiesmeer 61
85. Kalmte in gevaar is die beste Raadsman 67
86. Veg Boesmans ook onder mekaar? 75
87. Die verkeerde Volstruis 81
88. Staan tot die Dood toe 93
89. Vryheid--die grootste Ideaal 101
90. Liewers Sterwe as Oorgee 111
91. Die Wreedheid van Boesmans 119
92. Boesmans in die Breekwater 127
93. Uit die Breekwater huis-toe 133
94. 'n Boesman-Weeskind 139
95. Die Krag van Bygeloof 149
96. Nog meer oor Bygeloof 157
97. 'n Boesman se Opvoeding 163
98. Hoe 'n Tier baas gespeel het 171
99. Twee verwante Stories 181
100. Uit die bek van 'n Krokodil ontsnap 187
'N PAAR WOORDE VOORAF.
Met Boesman-Stories het ons eers die leser 'n kykie in die hart en
gemoed van die Boesman laat werp. Hierdeur het ons kennis gemaak
met sy manier van dink, wat sy begrip van lewe is, en ook in hoever
hy hom in afgetrokke denkbeelde kan verdiep. Toe het ons nader na sy
aandvuurtjie gestap, om na sy stories, die vrug van sy skeppingskrag,
te luister. Daarna het ons getrag om hom voor te stel soos hy deur
die bril van die beskawing gadegeslaan word. En nou in Deel IV bring
ons hom op die toneel om te toon watter rol hy in die hedendaagse
beskawing speel. Ons kry hier met die voorhistoriese mens te doen.
Sou vandag in Europa 'n klompie van die ou geslag uit die steentydperk
verskyn, let dan op watter ophef oor hulle sal gemaak word. Geleerdes
van alle kante sal toestroom om kennis met die voorgeslag te
maak. Hulle sal praatmasjiene meebring om die taal op plate te
bewaar. Hulle sal hard probeer om die taal te leer, en hulle sal dié
soort mense meer vrae stel as wat hul kan beantwoord.
Wel, hier in Suid-Afrika het ons onder ons vandag nog 'n menseras uit
die steenperiode, en min aandag word aan hulle deur die geleerde wêreld
bestee. Ja, eendag sal die nageslag ons, die teenswoordige geslag,
vir hierdie nalatigheid met reg grootliks blameer. Ons persoonlik
het daarna gestreef om materiaal byeen te bring om die Boesman in
elke opsig van sy maatskaplike bestaan voor te stel. Ons het getrag
aangrypende voorbeelde uit sy lewe te verskaf om kennis te maak met
sy manier van dink, redeneer, ook sy doen en late, en om 'n idee te
kry van watter nut of onnut hy in die hedendaagse maatskappy is. Met
ander woorde, ons het gepoog die teenswoordige en toekomstige leser
in aanraking te bring met die Boesman wat leef--al is hy reeds lankal
gestorwe. Deur sy geskiedenis, sy kuns en sy taal te bestudeer, kry
ons slegs 'n lewenslose portret van hom; maar om na sy vertellings
te luister, sit ons in sy geselskap, en ons ore drink ieder woord van
sy lippe op--al is daardie lippe reeds vir eeue tot stof vervorm. In
ons verbeelding sien ons 'n lewendige wese op wie se aangesig noodlot
sy stempel van plesier en onbesorgdheid diep afgedruk het.
Die geskiedenis is slegs 'n koue standbeeld wat ons kom vertel dat daar
êrens so 'n nasie gelewe het, dat Afrika uit die pad van Europa en Asië
gelê het; en weens sy woestyne was Afrika nooit die Nabothswyngaard van
hebsugtige nasies nie. Om hierdie rede was die Boesman vry om na eie
goeddunke te handel en te wandel. Hy is nooit oorwin geword nie, maar
wel stelselmatig verdrywe en uitgeroei. Die geskiedenis vind hierdeur
'n verklaring van hoe 'n ou geslag uit die steentydperk deur al die
eeue onveranderd, onbeskaaf, sonder 'n steek verder te ontwikkel as
wat hulle stamvaders vir duisende jare terug was, gebly het, terwyl
in die geval van ander volkere die monumente van die beskawing van die
gryse verlede verkrummel het en die son van die Verligte Eeue reeds vir
'n lang tydvak hoog aan ons hemel skitter. Hoe belangwekkend dit alles
is om te weet, ons het slegs 'n koue standbeeld van hierdie dwergras
voor ons, terwyl aan die ander kant hulle volksvertellings ons met
'n lewendige ras in aanraking bring.
Wel, wat Boesman-Stories vir die teenswoordige betref, word hul deur
die gros van ons lesers bejeën as bloot vermaak vir kinders. Dat
dit so mag wees! Dan is ons oor hierdie feit baie voldaan, omdat
dit ons die versekering gee dat ons meehelp om aan ons opgroeiende
geslag genotvolle uurtjies te verskaf. Daarom het ons eenvoudige taal
gekies. Maar daar sal gewis 'n tyd aanbreek dat nie alleen kinders
nie, maar meer as kinders hulle ore sal hou teen die blaaie van
Boesman-Stories om te luister na sprokies en vertellings asof die
woorde direk en duidelik afkomstig is van die oorspronklike lippe
wat hul vertel het.
Die Skrywer.
Kafferstad, Hendrina, Tvl.,
24 Oktober 1919.
Stories No. 1 tot No. 25 is in Deel I gepubliseer; No. 26 tot
No. 50 in Deel II; No. 51 tot No. 75 in Deel III; en No. 76 tot
No. 100 word in hierdie Deel gepubliseer.