Baie lank het die geloof bestaan dat in die noordelike binnelande van
Suid-Afrika die groot ryk Monomotapa geleë was, en van die Kaap uit is
poginge aangewend om met die vors daarvan in verbinding te tree. Op
kaarte word sy ryk aangedui en soms met talle van stede versier. Die
Portugese bronne werp ’n interessante lig op die oorsprong van hierdie
legende. Toe die Portugese in die begin van die sestiende eeu by Sofala
’n neersetting gestig het, het hulle veral met die Makaranga-Kaffers in
aanraking gekom. Hulle beskrywe die stam noukeurig, en die hoof daarvan
noem hulle Monomotapa of Benomotapa. Ons het hier waarskynlik te doen
met ’n tietel of uitroep waarmee die Kaffers hulle koning vereer het;
volgens gissinge, gebaseer op hedendaagse Bantoe-dialekte, kon dit heer
van die berg of hy wat roof beteken het [14]; die Portugese het dit
egter met keiser [15] vertaal. Hierdie verkeerde vertaling, tesame met
ander oordrewe voorstellinge van die groot uitgestrektheid en rykdom
van Monomotapa se land, het die genoemde legende laat ontstaan; en
Monomotapa is naderhand die naam van ’n keiserryk.
Die Portugese stigtinge by Sofala en verder na die binneland toe, langs
die Sambesie op, was die gevolg veral van hulle ywer om die fabelagtige
goudmyne, waarvan hulle gerugte verneem het, te ontdek. Die goudstof
wat die Kaffers na die kus gebring het, was vir hulle ’n bewys van die
gegrondheid van die gerugte. So kry hulle ’n taamlik vae kennis van die
ruïenes suid van die Sambesie, waarvan Simbabwe vandag die bekendste is
en wat hulle reeds in verband met ’n oer-oue goudontginning deur
vreemde veroweraars gebring het.
Die volgende uittreksels gee ’n indruk van die opvattinge van die
Portugese omtrent die land van Monomotapa en die geheimsinnige
goudrykdom daarvan. Ook sien ons hoe gebrekkig hulle kennis van die
binneland nog was. Hulle het blykbaar reeds van die mere gehoor, maar
hulle meen dat daar een groot meer is, waaruit feitlik al die groot
Afrikaanse riviere, die Nyl, die Kongo, die Sambesie en die Limpopo,
vloei. Hierdie wanbegrip word miskien weerspieël in name soos Bahia da
Lagoa en Rio da Lagoa [16].