VOORWOORD.

Die doel van hierdie uitgawe is om dele van die Suid-Afrikaanse

Geskiedenis in ’n meer direkte en aanskoulike vorm aan skole en die

algemene lesende publiek te gee. Ons meen dat dit in ’n groot behoefte

sal help voorsien. Of die behoefte ook assulks gevoel word, sal nog

moet blyk. Dit is in elk geval waar dat wie die Geskiedenis regtig wil

geniet en met vrug beoefen, met die ou oorspronklike geskrifte moet

kennismaak; want in hulle lewe waarlik die gees van vervloë tye, en

deur hulle word die verlede vir ons werklikheid. Om die leser meer in

die gees van die tyd te laat kom, het ons trouens nie geaarsel nie om

die originele Hollandse tekste onveranderd te laat of ’n ou Hollandse

vertaling te reproduseer waar die oorspronklike geskrif in ’n vreemde

taal opgestel was. In party gevalle, b.v. die Portugese tekste, was dit

nie moontlik nie, omdat daarvan alleen gebrekkige en onvolledige

Hollandse vertalings bestaan. Ons het hulle dan ook in Afrikaans

oorgesit.

Al die stukke het reeds in druk of herdruk verskyn, maar in werke wat

seldsaam geword het of in versamelings wat vir die gewone leser, ver

van biblioteke verwyderd, moeilik toeganklik is. Uit uitgawes soos b.v.

Reizen in Zuid-Afrika van dr. E. C. Godée-Molsbergen, wat eers kort

gelede verskyn het en nog in die handel is, het ons met opset niks

oorgeneem nie. Ons wens egter met nadruk op hierdie werk en ander

publikasies van die Linschoten-Vereniging die aandag te vestig en hulle

vir lees en studie aan te beveel. Ook kan hier herinner word aan die

Records van Theal, wat maar alte dikwels ongebruik in ons openbare

biblioteke lê, onder ’n laag van stof.

Die feit dat die Burgerleeskring hom veral tot die algemene lesende

publiek wend, het ons genoodsaak om meer van die suiwer anekdotiese en

awontuurlike element in te bring as ons anders miskien sou gedaan het.

Verder het ons egter veral aan die kultuurhistoriese waarde van die

uittreksels gedink; en in die inleidings, wat aan elke skrywer

voorafgaan, probeer ons om die betekenis en belang van die stukke

duidelik te maak. Ons hoop dan ook dat hierdie uitgawe sy weg ook na

die skole sal vind. Die kundige onderwyser sal dit met vrug as

historiese leesboek in die hoogste klas of klasse van die Primêre Skool

en in die Sekundêre Skool kan invoer, en ons sal graag verneem welke

ondervinding die onderwyswêreld daarmee opdoen. Party mense sal miskien

dink dat sommige stukke vir skoollektuur te moeilik is. Ons meen egter

dat as die onderwyser sulke stukke self goed voorlees en die kinders

die teks in hulle boeke laat volg, hy verwonder sal wees oor die gemak

waarmee hulle sewentiende-eeuse Nederlands sal verstaan. Dit is te hope

dat die tyd van vaste leerplanne en hoofdelike inspeksie, wat tot die

kou en herkou van een klasboek lei, aan die verbygaan is, en dat

onderwysers ook nou die geleentheid sal hê om interessante bronne of

stukke daaruit met die leerlinge te lees. Die ontwikkeling van die

laaste tyd gaan gelukkig in die rigting van meer vryheid wat dit

betref, en ons vertrou dat onderwysers ’n ruim gebruik van die vryheid

sal maak. Die lees van ou geskrifte sal lewe en besieling in die

historiese onderwys bring.

Hierdie boek omvat die eerste periode van ons geskiedenis tot die begin

van die agtiende eeu. As dit blyk dat daar navraag voor bestaan, sal

nog meer deeltjies oor ander tydperke volg. Stof is daar natuurlik

genoeg voor.

W. Blommaert.

S. F. N. Gie.

Uniwersiteit van Stellenbosch,

Februarie 1922.

Uit ou Reisbeskrywinge: Dagverhale en ander letterkundige bronne oor die Kaap · 第 2 / 39 题