IX

"Wie kom so laat nog na my huis?...

Ek hoor daarbuite 'n voetstap ruis."...

Die bo-deur swaai sag aan die kant.

Is dit die wind se onsigbre hand?...

'n Kersie wikkel--hoe die deur

al saggies word opsy gebeur--

en wend lig-golfies daar en hier

langs langvergane muurpapier.

"Wie kom nou na my huis? Dis nag!"

Die grysaard nou geboë wag

en kyk, maar kan geen wese ontdek--

totdat 'n stem kom: "Pa, dis ek."

Dan doem traag uit die duisternis

'n beeld wat hom nóg eie is.

"My kind!... Oplaas!" en dan niks meer.

Sy val hom aan die voete neer.

'n Vaderhart se medely--

wat kom Gods liefde naderby?

God wat alreeds te wagte staan

as die "verlore seun" kom aan!

Hy blik haar in die skuldige oog...

Die trane-sout 't al vasgedroog.

En sinlikheid aan 't wisselwyk,

van ver deur dowwe sluiers kyk.

"My kind, dáár het ek neergekniel,

snags uitgestort my bitter siel;

dié deur het nooit nie dig gegaan,

en daardie kersie 't daar gestaan.

"Nou kan ek sterf, my oog het nou

jou saligheid, my kind, aanskou."

Hy sien haar aangesig is bleek--

'n skone spieël gekraak, gebreek.

"Hoe is jou skoonheid van weleer

deur Gods geregtigheid verteer--

die vlam wat ons nie sien nie, maar

waarvan ons net die as vergaar!

"My kind, meteens my profesie,

van wat my oog gewislik nie

meer sal aanskou: die wederkeer

van al my volk tot God en eer.

"Lê op my graf geen sooi met gras,

maar dek dit met die heuwel-as;

want daarso lê begraaf jou eer

en van die boervolk van weleer.

_"Ja, daarom is die heuwels hoog,

en dáárom is hul skynsel bleek,

en daarom is die winddreun diep,

so droef soos een wat smartlik smeek!_

"Maar eens herleef die nasie weer,

waarvan ek sterwend profeteer.

Eens word die grys-blou heuwels klein

as God alleen weer groot verskyn!"

Hul staar mekaar nog vraend aan

wanneer die dag al op wil gaan...

Dan sien sy hoe sy vinger wys

waar Perdekraal se heuwels rys!

* * * * *

Die digter het sy taak volbring.

Die sanger het sy lied gesing,

en wil met enk'le woorde nog

vermeld van stille beevaarts-tog;

van hoe sy voet eerbiedig stand

hou by twee graftes op die Rand.

Dié vaal-wit hopies dek hul bei,

vader en dogter, sy aan sy!--

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 45 / 45 题