Hoe mooi het al die stad geword!
Hoe slinger, soos 'n krans, omheen
die villatjies in keur van steen
en wisseling van boumodel!
Hoe mengel hulle kleuretint,
van helder-wit tot donker-dof,
omlaag, omhoog; dis alles of
'n kunst'naarshand hul plek bepaal.
Hoe groei die bome in die rots
en bloei die blomme in kleure sag,
vlak teen die rant se wilde prag,
asof dit nooit nie anders was.
En dan, die golwende verskiet
van bulte en bosse, al deureen,
totdat die oë vasslaan teen
Magaliesberg, die groot blou reus.
('n Bietjie goud maak baie mooi,
en--dis maar krummels van die groot,
uit louter goud gebakte brood,
wat na Europa word vervoer!)
Ook saans nog wyk die mooiigheid
nie heeltemal nie, want dan blink
'n see van liggies; mens sal dink
die sterre 't uit die lug geval.
Die stad self lyk nou een en al
koopmanspaleise opeengehoop,
waartussen al die mensies loop
wat vreselike drukte maak.--
Oom Gert sien niks van al die skoon.
Die agterbuurt, daar dink hy aan
waar die blikhuisies almal staan,
en alles vuil-armoedig is;
bedink maar hoe die mense woel
waar huise en stof die son versper,
waar sawends skyn geen maan of ster,
en net die lampeskynsels blink.
Hy sien skoorstene en steenkoolrook;
hy hoor die treine met hul haas;
hy hoor die myn se toeter blaas,
en 't gaan asof die aarde brul.
Hy dink dan aan die myn-graf waar
die mense lewendig in kruip,
om soos erdvarke rond te sluip
vir bietjie geld en--longekwaal.
Hy dink aan ander duisende
van mense, voorheen eerbaar-braaf,
vir wie die skandgraf word gegraaf
wanneer die goud rys uit die grond.--
Maar--daar is fees bo-op dié graf!
Nes die ou tyd waar oom Gert van lees,
dat mense hou 'n dansersfees
wanneer die "swarte dood" verwoes.
V
_Die môre van die Unie-fees_
Oom Gert sien die soldate
in kakie langs die strate.
Hy sien die oorlogslans
se lintjies vrolik dans,
die sabels en gewere,
kanonne en helmet-vere,
op die paradebaan.
En agteraan?...
Hy sien die oorlogs-wees
wat deelneem aan die fees--
'n kinder-keurkommande
met skewe hoede-rande;
'n ganse skaar kadette
met roer en bajonette--
al agteraan
op die paradebaan.
_Die môre-godsdiens_
Vroom geklank!
Mense dank,
almal mede,
vir die vrede
'n Opperwese.
Want genees is
en verbonde
is al die wonde;
rassevete [B]
's al vergeet.
Met veréénde klank
rys die vreugdedank!
[B] Rassetwiste.
_Die middag_
Hy hoor die geluid van juublend gesketter,
die vrolike klank van simbaal en trompetter,
gedra op die dreun van die oorlogstamboer
wat dond'rend soos onweer die harte kom roer.
Daar's wapenbeweeg wat yslik weerklink;
kanonwaens kom aan en kettings rinkink.
En hy hoor daarna:
Hoera! Hoera!
Hy hoor die tred van die oorlogswees,
sy voete gedril vir die Unie-fees!
Hy hoor 'n gesang van sy lippe weerklink
as hy bly en verruk uit die feesbeker drink.
'n Hosanna gaan op uit die kindermond,
en die skare juig saam in die vrolike stond;
En hy hoor daarna:
Hoera! Hoera!
_Die aand_
Vreugdevure deur die land...
Mense juigend om die brand!
Vreugdepyle gons omhoog
en ontplof hoog aan die boog;
bly-verwonderd bly die skaar
na die skitterkleure staar.
Oom Gert gaan vroeg die aand na huis,
want een ding staan by hom nou vas:
dat hy nie in dié wêreld pas.
Hy het 'n beter dag geken
en is te oud om nog te wen
aan al die vreemdigheid
van nuwe koers en tyd.
Hy slaap laat in met diep gesug,
en in sy droom kom weer terug
die wese op die paradebaan,
die kinders wat hosanna sing,
die mense wat mekaar verdring
om rond die vreugdevuur te staan.
Ook kom hom deur sy droomnag speel
'n enk'le krygs- en kamptoneel;
'n moeder by haar kind aan waak,
'n stryder sterwend vir sy saak.
En as hy opstaan kom die vraag:
My Dina, ja, was sy
ook dalk daarby?...