Verlore-klein lê op die Rand
hul huisie in die trekkersland;
dit is 'n stip net in die wei--
die rietedak en muurtjies van klei.
Daarlanges lê die beestekraal,
waar smiddags doodse stilte daal
as kalfies, in die son gebraai,
die vlieë van hul kop lê waai,
so dom-gerus; en bly-ontsteld
eers opspring as uit ruie veld
die koeie aandraf wat met hul
geloei die awendstond vervul.
'n Bietjie verder van die huis,
waar mielieblare helder ruis
as windgeroer hul sanggeluid
hef bo die dowwe velddreun uit,
lê laer af, 'n klein vierkant,
die rooi geploegde akkerland
waaruit die boer by goeie jaar
sy mielies, ál sy graan vergaar.
'n Enkele perske, aan die lug
gewénd, dra daar sy goudgeel vrug,
en bied, gedroog, in wintertyd,
'n skaars-verkrygbre soetigheid.
Dit is die plasie wat daar leg,
só rustig in die wydte weg--
'n koninkrykie op homself
waaroor 'n helder hemel welf.