VRYHEIDSLIEFDE.

Theal prys "the intense love of liberty" van die Boesman; Fritsch,

"diese Freiheitsliebe" maar Stow gee vir ons 'n skets wat hy van

Dr. Rubidge, wat blykbaar self teenwoordig was, gehoor het. Dit het

geen verder aanmerking of aanvulling nodig nie:

"......Nadat hulle seker skade teweeg gebring het, is die stammetjie

omsingel deur 'n kommando wat hul nagevolg het, en daarin geslaag

het om hul af te sny tussen die rotse van 'n oorhangende punt bo

'n steil afgrond. Hier vir die laaste keer het dié Boesmans gestaan

om slag te lewer. Hulle onversadigde vyande dreig aan die een kant,

aan die ander lê die afgrond wat alle moontlike hoop van ontsnapping

belet. 'n Bloedige maar hopelose stryd vir die lewe begin--een na

die ander val hul voor die koeël-reen wat hul teenstanders op hul

uitgiet. Die gesneuwelde en sterwende lê opgehoop op die skrikwekkende

krans; veel, met hulle laaste worsteling met die pyn, rol en val

tussen die omliggende punte en splete. Maar weerstand bied hul nog,

en beswyk een na die ander tot alleen een enkele oorbly.

"En tog, met die bloedige hoop dooies om hom, en die verbryselde

lyke van sy kamerade op die rotspunte onder hom, het hy net so

onbevrees daar uitgesien as toe hy deur die ganse genootskap van

sy dapper broederkrygers omring was. Op die uiterste punt van die

oorhangende rotse neem hy sy posiesie in; daar, met 'n afgrond van

sowat tweehonderd voet aan ieder sy van hom waar geen man hom sou

durf volg nie, daag hy sy vervolgers uit. Tussen die koeëls wat soos

haelstene om hom heen slaan, het dit gelyk as of hy met paljas betoor

is, en met nimmer feilende hand los hy pyl na pyl op sy vyande waar

en wanneer een van hulle onversigtig hom ontskuil.

"Die snaar van sy boog lê al teen sy laaste pyl; 'n gees van medelyde

trek blykbaar oor die venynige vyandelike skaar wat hom van alle

kante bedreig; hulle roep na hom dat sy lewe sal gespaar word as hy

hom oorgee. Met minagting skiet hy sy laaste pyl op die spreker met

dié woorde: ''n Opperhoof weet wel hoe om te sterwe, maar nooit om oor

te gee aan die ras wat hom uitgebuit het nie!' Toe met 'n wilde kreet

van minagting draai hy om, en spring daar onbevrees die steil afgrond

af waar hy, op die rotse vermorseld, sy dood ontmoet. So het vergaan

met onverskrokke moed die laaste van sy stam, en met hom verdwyn sy

stam ook uit die geskiedenis van Suid-Afrika."

Iets oor die Boesmankultuur 'n Lesing gehou voor die Suid-Afrikaanse Akademie op Stellenbosch, Januarie 1920, en gedruk op las van die Akademie · 第 25 / 35 题