AFLEIDING VAN DIE WOORD BOESMAN.

Van die name wat ander nasies vir hul gegee het, sal later weer

iets gemeld word as ons die verhouding tussen die Boesmans en

hulle bure behandel; maar ons sal nou eers ons eie woord vir die

eienaardige dwergies moet bespreek. Boesmans, Bushmen, Buschmänner,

Boschimans--al die beskaafde tale lei die woord af van die Neerlandse

Bosjesmannen. Hoe Bosjesmannen verkort word tot Boesmans en nie

Bosmans of Bossiesmans nie, kan ons voorlopig oorlaat aan ons

Afrikaanse taalgeleerdes; maar hoe kom die Hollanders aan die naam

Bosjesman? Al die oudste Hollandse reisigers gebruik die woord Sonqua

(wat vandag, sover die skrywer weet, alleen nog bestaan in die woord

sonquariet) vir die nasie. Hoe het dit dan gekom dat die ander naam

populêr geword is? En waar kom dit vandaan? Die mense was tog nie

bos-bewoners nie. Soos Fritsch in sy "Die Eingeborenen Südafrikas"

sê, Lichtenstein se bewering dat hulle Bosjesmannen genoem word,

omdat hulle agter bossies woon, is belaglik; net soos die rede van

die "Select Committee on Aborigines" wat beweer het dat die naam

te wyte is aan die feit dat die ras liewer op die veld of in die

bos wou lewe as om diensbodes van die blanke te word. Fritsch gee

'n ander afleiding van die woord. Hy wil hê dat die Neerlandse woord

sou gelyk staan nie met die Duitse woord "Waldbewohner" nie, maar

met "Waldmensch" d.w.s., 'n indiwidu van 'n seker fabelagtige ras

wat soölogies tussen man en aap staan. Om dit te bewys haal hy aan

dat Van Riebeek in sy dagboek melding maak dat hulle op die berg,

'n dooie "Boschmanneken" gevind het, wat in Batavia "Ooerang-oetang"

heet. Dit sou dan 'n skelnaam vir die Boesmans geword het wat mettertyd

meer en meer populêr geword het, en meer in die Nederlandse mond pas

as die uitheemse woord "Sonqua." Fritsch siteer ook 'n offisiële berig

van die jaar 1685 wat meld dat "Kaptein Klaas, 'n Hottentothoofman,

oorlog gemaak het met die Sonqua, algemeen 'Bosjesmannen' genoem."

Dit mag vir sommige ongeloofbaar klink dat die koloniste deur dié

aangenome naam, dit feitlik in twyfel trek of die Boesman werklik

mens is, maar selfs tot in die dae van "Die Patriot" het daar

twyfel bestaan, en die lesers het serieus die vraagstuk in die

korrespondensie-kolomme van genoemde blad bespreek. Lichtenstein

in die begin van die neentiende eeu vertel dat die Boere nie meer

eerbied vir die lyk van 'n Boesman betoon het, as die van 'n wilde

dier nie. In 1850 is daar 'n boek geskrywe deur Rev. Thornley Smith,

'n Wesleyaanse sendeling met sewe jaar ondervinding in Suid-Afrika,

en die volgende vertaling van 'n paar sinne uit sy boek bewys dat

dié Eerwaarde heer self twyfel had, of dag dat sy Engelse lesers

miskien sou twyfel of die kleintjies regtig mense was. Hy beskrywe

'n grot met Boesmantekeninge versier, en dan sê hy:--

"Waarvandaan, mag 'n mens vra, het die wilde bewoners van die

kranse hulle kuns gekry? Durf ons dit beskou as 'n bewys van

'n bewussyn? Word sulke vaardigheid ooit geopenbaar buiten deur

die mens?"

En as die mense van die neentiende eeu--Afrikaners sowel as

uitlanders--nie oor die punt eens is nie, is dit tog heeltemal

aanneembaar dat Van Riebeek se mense, ongewoon aan die neger, seker

was dat die Boesmans nie aan die menslike ras behoort.

Fritsch se verklaring dan van die afleiding van die woord Bosjesman

is waarskynlik die regte; maar molik sal ons taalgeleerdes deur die

vorm "Boesman", op 'n verklaring kom wat nog meer aanneembaar is as

die van Fritsch.

Iets oor die Boesmankultuur 'n Lesing gehou voor die Suid-Afrikaanse Akademie op Stellenbosch, Januarie 1920, en gedruk op las van die Akademie · 第 7 / 35 题