SEE-SONNET.

O magtige oseaan, jy wydgestrekte,

Omsirkeld deur die ongemetenheid,

Diep in jou boesem rus die onontdekte;

Alleen jou swaar gehyg verneem die tyd.

O nooitvermoeide see wat immer-woelend,

Getye reël na gange van die maan

En op die storm se stem ontstuimig spoelend,

Jou branders op die rotse stukkend slaan!

O ewige deining van die Grote en Magtige!

So dein die breed sterk stroom van volle lewe

In my klein hart. Ek nietigste kristal,

Ek mag ook speel met glans van die ewig-pragtige.

Die skepping het ook my sy doel gegewe:

Een polsslag in die ritme van die Heelal!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 96 / 122 题