Aan my vriend EDUARD KARSEN.
Ou Amsterdam is tog so mooi
Met al sy liggies uitgetooi
In donker, donker nagte.
Dis liggies hier en liggies daar
In lange rye aanmekaar,
Wat flikker in die gragte.
En honderd-duisend ogies loer
Op spieëlgladde watervloer
Daar bowe uit die hemel.
Dis liggies hier en liggies daar
En bootjies, wat so saggies vaar,
Dat ligte golfies wemel.
Die liggies soek mekaar weer op
In water, wat teen walle klop
Op stormagtige nagte.
So toweragtig, lief en skoon
Is liggies, wat op walle woon
En flonker in die gragte.