Die daagraad kruip die dieptes uit,
uit stille nag gebore,
en vleg ’n krans van pêrelglans
om slape van die môre.
Hy sweef op goue vleuels aan
en ry op wolke-some:
Daar ’s glimlag op die bergery,
daar ’s blydskap in die strome.
Hy skuif die wolle deken weg
van bergekruin en hange
en wek, so doend, ’n weelde-blos
op bolle rotse-wange.
Hy lig die woud-paleise op,
en vul hul lommersale
met vreugde-sange, wyd verbrei
deur klowe en oor dale.
Die velde bloos ’n maagdeskoon,
ontwaak uit lente-drome--
daar ’s glimlag op die bergery,
daar ’s blydskap in die strome.